Die organisasie sonder winsoogmerk West Coast Sports Solutions (WCSS) is gestig om minderbevoorregte kinders of tieners wat in sport uitblink, finansieel te ondersteun.
Die Moorreesburg-rugbyklub, in samewerking met West Coast Sports Solutions, begin 23 September met ’n jaarlikse 7’s-toernooi vir o.19-rugbyspelers, die Erfenis-7’s-toernooi, wat oor twee dae sal plaasvind.
Die sperdatum om aan die toernooi deel te neem, is 31 Augustus.
WCSS is drie jaar gelede gestig om minderbevoorregte kinders of tieners wat in sport uitblink, te help. Wanneer kinders skielik vir hul skole gekies word om aan SA skole of provinsiale kompetisies deel te neem, gaan dit in baie gevalle met enorme uitgawes gepaard.
Baie ouers kan dan nie in die behoeftes van hul kinders se sportuitgawes, soos sporttoerusting, klere of vervoerkoste na en van sportbyeenkomste, voorsien nie.
Baie word dan gedwing om by die huis te bly omdat ouers nie hul uitgawes kan dek nie. In talle gevalle ontstaan die probleem ook by afrigters, want nie alle skole het afrigters in alle sportsoorte nie.
Op dag een word die groepfase-wedstryde afgehandel, met die uitspeelwedstryde wat Sondag 24 September plaasvind. Die prysgeld is R30 000, met die wenspan wat met ’n enorme R10 000 wegstap.
Inskrywings kos R250 per span, en 16 spanne word uitgedaag om hul talent te kom wys. Nadat die toernooi op sosiale media aangekondig is, het klubs van so ver as Botrivier en Ashton sowel as ander Westelike Provinsie-klubs navraag gedoen.
Skole of klubs wat wil deelneem, word gevra om hul e-posadresse per WhatsApp na 063 487 3657 te stuur, waarna besonderhede gestuur sal word. Ondernemings word ook dringend benodig om die rugbytoernooi vir WCSS te borg.

