“Die gemeenskap is ons helde!”
Só sê Louis De Sousa, die eienaar van die Watergat-restaurant in Langebaan, nadat ’n brand tussen Dinsdagnag 25 Oktober en Woensdagoggend 26 Oktober in die onderneming ontstaan het.
Groot skade is aan dié restaurant en kuierplek aangerig.
Volgens De Sousa het die brand ontstaan nadat al die personeel reeds huis toe is. Hy kan nie in hierdie stadium oor die oorsaak van die brand uitbrei nie, maar het wel gesê “dit het iets met die pizzaoond te doen”.
Die boonste vloer van die kuierplek, waar die snoekertafels is, het groot skade gely en die bedrading is in die brand vernietig.
Die dorp se sakelui en die gemeenskap het egter hande gevat om die Watergat te help om blitsvinnig te heropen.
Die restaurant was net 36 uur gesluit en het weer Donderdag oopgemaak.
“Ons is regtig dankbaar. Die mense wat Woensdag ons bedrading kom oordoen het, het hul ander werk opsy geskuif om ons te help. Die munisipaliteit het ons geprioritiseer vir ’n veiligheidsinspeksie sodat ons so gou as moontlik weer kan besigheid doen.”
’n Plaaslike raadslid, Wimpie Amerika, het Woensdagoggend op Facebook gesien mense praat oor die brand by die Watergat.
Hy het gou mense in die gemeenskap bymekaar gekry om by die restaurant te gaan help skoonmaak.
“Langebaan se enigheid onder die gemeenskap en die sakemense is regtig uniek en iets om op trots te wees,” sê Amerika. “Hier staan ons saam vir mekaar en ons help mekaar.”
Volgens De Sousa kan die skade aan die boonste vloer nie herstel word voordat die assessors uitgekom het nie.
“Hulle het gesê die afhandeling van die eis kan dalk ’n hele paar maande neem. Ek wou weet of ons uitbetaal sal word as ons die skade intussen op eie onkoste regmaak, maar die antwoord was ook nee.”
Hy sê egter “God was tot dusver goed vir ons” en “met krag van Bo” sal hierdie struikelblok op ’n manier oorkom word.





