“Hoe meer dae, hoe meer dinge”, soos die gesegde lui. Net wanneer jy dink jy het nou alles gesien: Verbeel jou net jy ry in jou motor, en die volgende oomblik vang jou oog ’n lewensgrootte kameelperd op sy louere in die bak van ’n sportnutsvoertuig.
Dit was die beeld wat enkele Weskussers dié week in Hopefield en Langebaan aanskou het. Met ’n nadere kykie was dit toe al die tyd ’n opgestopte jagtrofee wat op ’n veiling gekoop is en op pad was na sy nuwe eienaar.
By nadenke is die idee van ’n opgestopte jagtrofee nou nie juis meer wenslik nie, maar wat die storie wel genotvol maak, was die afslaer se meedeling dat hierdie maar net een van vele “interessante, nie-alledaagse artikels” is wat hy al op ’n veiling verkoop het. Dit het natuurlik ’n heel nuwe gesprek in die redaksiekantoor laat ontketen en ’n nuuskierigheid aangewakker wat ons hoop om in die volgende week of twee as interessante leesstof vir lesers aan te bied.
Maar dit vir eers daar gelaat. Facebook-gebruikers word dikwels verras met interessante goed wat op dorpe se groepe te koop aangebied word, en soms staan ’n mens stom oor mense se “entrepreneursvernuf” en daarmee saam hul onderhandelingsvermoë soos min. Die kommentaar wat egter met van hierdie te koop-aanbiedings gepaardgaan, onthul soms die versteekte komediant-talent wat in talle vasgelê is.
GESELS SAAM




