Wat gebeur met jou minderjarige kinders wanneer jy sterf?

Dit is ’n uitkoms waaraan ek, as ’n ouer van twee minderjarige kinders, en ek glo alle ouers, nie graag wil dink nie. Tog is dit ’n realiteit en belangrik om daarvoor te beplan.

Die volgende is van die belangrike stappe wat gedoen kan word om jou sake in orde te kry:

1) Maak seker jy het ’n geldige testament waarin voogde vir jou kinders aangewys word. Hersien jou testament gereeld ná groot lewensgebeurtenisse, soos die geboorte van ’n kind. Dit is ook goeie praktyk om twee oorspronklike afskrifte van jou testament te hê: een kopie wat jy op ’n veilige plek hou en waar dit maklik ná jou dood gevind kan word, en die ander wat jy vir jou finansiële adviseur of prokureur vir veilige bewaring gee. Indien jy sonder ’n geldige testament sterf, word jou bates ingevolge die Wet op Intestate Erfreg vererf. Die gevolg kan wees dat bates aan ander erfgename vererf as wat verwag is. Die intestate beredderingsproses kan ook langer neem en tot bykomende koste lei.

2) ’n Sleutelkomponent van jou testament is om ’n geregtelike voog te benoem. ’n Voog sal deur die hof aangestel word as daar nie ’n wetlike of biologiese voog (soos ’n ander ouer) is nie. Daar sal van dié voog verwag word om alle ouerskapverantwoordelikhede oor te neem en, tensy ’n trust geskep is, enige bates wat die kinders geërf het te administreer totdat hulle 18 word.

Indien bates aan minderjarige kinders sonder ’n geregtelike voog vererf word, bestaan die risiko dat die bates na die regering se Voogdyfonds oorgedra word, waar dit geadministreer sal word totdat die kinders 18 jaar oud is. Onderhoud vir jou kinders sal van hierdie fonds geëis moet word, wat administratief intensief en tydrowend kan wees.

3) Hou die begunstigdes van jou polisse op datum en maak seker dat jy die beperkings ten opsigte van vererwing aan minderjariges verstaan.

4) Nog ’n manier om jou minderjarige kinders se belange te beskerm, is om in jou testament vir ’n trust voorsiening te maak. Hierdie trust staan bekend as ’n testamentêre trust en die trustees van hierdie trust sal jou bates tot voordeel van jou kinders administreer totdat hulle 18 jaar oud is, of ’n ouer ouderdom wat jy kan spesifiseer.

Dit is dus van kardinale belang dat boedelbeplanning deel van jou holistiese finansiële beplanning uitmaak. Op dié manier kan jy verseker dat jy genoegsame voorsiening vir jou geliefdes maak en verhoed dat potensieel katastrofiese gevolge op hulle wag.

Gesels met jou finansiële raadgewer om seker te maak dat jou huis in orde is.

*Lourens van Wyk is ’n gekwalifiseerde CA (SA) vir PSG Wealth Financial Planning; stuur e-pos aan hom by Lourens.vanWyk@psg.co.za.. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting en die voorbeelde is slegs ter illustrasie. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële raadgewer raadpleeg indien nodig. Geaffilieerdes van die PSG Konsult-groep is gemagtigde verskaffers van finansiële dienste.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article