Volgens Ratings Afrika se jongste munisipale finansiële volhoubaarheidsindeks (MFSI) is die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) amptelik as Suid-Afrika se beste bestuurde munisipaliteit vir 2025 aangewys.
Daarby het twee van die distrik se plaaslike munisipaliteite – Saldanhabaai en Swartland – die gesamentlike eerste plek as die top-presterende plaaslike munisipaliteite in die land behaal.
Die MFSI, wat sedert 2011 jaarliks gepubliseer word, beoordeel munisipaliteite op grond van geouditeerde finansiële state. Die indeks meet finansiële volhoubaarheid aan die hand van bedryfsprestasie, likiditeit en skuldbeheer, begrotingspraktyke, bekostigbaarheid en infrastruktuur- ontwikkeling.
Met 14 opeenvolgende skoon oudits agter die rug ontstaan die vraag: Wat maak dié Weskus-distriksmunisipaliteit anders?
Struktureel gesien funksioneer die munisipaliteit nie anders as enige ander distrikmunisipaliteit nie – die verskil lê in die samewerking tussen politieke visie en administratiewe wil, gegrond op deursigtige en goed deurdagte besluitneming.
By die WKDM besef raadslede dat uitdagings en negatiewe persepsies in die openbare sektor eintlik ‘n geleentheid bied om vertroue te herstel en hoop te skep – deur doeltreffende, bekostigbare en hoëgehalte munisipale dienste te lewer.
Boffie Strydom, die burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, skryf baie van die munisipaliteit se sukses toe aan politieke bestendigheid en goeie bestuursetiek. “Wanneer daar politieke bestendigheid is, skep dit kontinuïteit en bou dit vertroue.
“‘n Skoon oudit is ‘n bevestiging van die munisipaliteit se verbintenis tot gesonde finansiële bestuur, deursigtigheid en goeie regering.”
David Joubert, die munisipale bestuurder, beklemtoon dat volhoubare uitnemendheid slegs moontlik is as die organisasiekultuur daarop ingestel is.





