Met haar tweede boek op die rakke is die Weskusser Rozaan de Wet Boer opgewonde om haar jongste boek, Is jy orraait, Elizabeth?, aan lesers bekend te stel.

Die boek is deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers, gepubliseer. Is jy orraait, Elizabeth? is die verhaal van drie uiteenlopende vroue wat elkeen pynlike ervarings beleef, maar deur hul vriendskap gedra word.

Elizabeth se lewe is nou vervleg met haar man se praktyk, waar sy daagliks met broosheid te doen kry. Sy sukkel aanvanklik om te aanvaar dat hulle ’n seun met downsindroom het, maar mettertyd draai haar bestaan al meer om hom en by hom leer sy die betekenis van liefde. Ada, ’n oorwerkte onderwyseres, en die voorkomsbewuste Mirna worstel met hul eie persoonlike gesinskwessies – van ’n dogter met ’n eetstoornis en angsaanvalle tot ontrouheid in die huwelik.

Is jy orraait, Elizabeth? is ’n getuienis van menslike krag, kwesbaarheid en die vermoë om lief te hê, ondanks uitdagings. Dit is ’n roman wat diepgaande ervarings en die verwikkeldheid van verhoudings ondersoek. Niemand ken jou diepste seer en jou moordende baklei teen die lewe so goed soos ’n opregte vriendin nie. Sy koester jou en beskerm jou – selfs teen jouself.

Rozaan het die boek reeds vyf jaar gelede geskryf en is deur haar jongste seun, wat downsindroom het, en haar eie lewensreis geïnspireer.

“Ek was aanvanklik baie negatief en geskok oor sy diagnose, maar die hele reis was nodig vir my,” vertel Rozaan.

Sy sê een van die uitdagings waardeur sy vir publikasie in die gesig gestaar is, was om die manuskrip met ’n paar duisend woorde te verkort.

“Ek moes binne drie dae vyf hoofstukke uitsny, sonder om skade aan die struktuur van die verhaal te doen. Die hoogtepunt was elke e-pos wat ek van die uitgewer ontvang het. Ons het ’n wonderlike verhouding opgebou en ek is die hele span baie dank verskuldig. ’n Boek is definitief ’n spanpoging en op die ou einde is ’n paar mense betrokke.”


Is jy orraait Elizabeth? is by verskeie boekwinkels en aanlyn beskikbaar.

. ’n Boekbekendstelling sal op Saterdag 8 Maart by die Langebaan-biblioteek om 10:00 vir 10:30 gehou word, asook by die Paternoster Lodge op Saterdag 22 Maart om 10:00 vir 10:30. Kontak Rozaan by 082 373 7877 vir meer inligting en om plek te bespreek.

Ander bekendstellings vind plaas op Donderdag 13 Februarie in Somerset-Wes, op Woensdag 26 Februarie in Wellington, op Dinsdag 11 Maart in Worcester, op Vrydag 14 Maart in Kimberley en op Donderdag 27 Maart in Malmesbury.

. Een gelukkige leser kry ’n kans om die boek te wen. Antwoord die volgende vraag: Op watter datum is die bekendstelling van Is jy orraait, Elizabeth? in Langebaan? WhatsApp jou antwoord na 082 576 0453.

Die wenner sal op Donderdag 13 Februarie gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article