Die bekende Johan Stemmet.


Met ’n koppie koffie en die pragtige uitsig oor die see reg op sy voorstoep het Weslanderby die bekende Johan Stemmet (71) gekuier.

Wie kan nou nie een van sy bekendste sêgoed – “vyftigrandjies vir jou!” – vergeet nie. Die voormalige aanbieder van die televisieprogram Noot vir Noot het Weslander hartlik in sy huis in Langebaan verwelkom.

Johan het in September 2021 die Goudstad verlaat en die skuif Langebaan toe gemaak. Hy geniet tans die stilte en kalmte wat die Weskus bied. Hoewel die Weskus ’n plek van rustigheid is, is daar nie stilsit vir Johan nie.

In die jaar 2019, vertel hy, het die tyd aangebreek om Noot vir Noot as aanbieder te verlaat en hy het die leisels aan Emo Adams oorhandig. Johan is egter steeds vervaardiger van die reeks en vervaardig ook steeds bekende televisieprogramme wat ons vandag nog ken, soos Musiek Roulette wat deur Nádine aangebied word, die vasvraprogram Fundis en soveel meer.

Die musiekspeletjiesprogram Noot vir Noot het in 1991 sy eerste verskyning op die televisie op die kanaal TV1 (nou SABC 2) gemaak. Dit het vir Suid-Afrikaners ’n huishoudelike naam geword.

“Vir my was dit altyd ’n vreugde om iets te maak vir mense en wat kykers kon geniet,” sê Johan.

Hy is al 43 jaar betrokke by SABC 2 wat hom die mees langlopende aanbieder op die nasionale uitsaaier sedert die begin van televisie in Suid-Afrika maak.

Oor die jare het Johan al baie mylpale behaal, waaronder CD-opnamens, musiektoere, as regisseur en die skryf van sy outobiografie.

’n Mens kan hom beskryf as iemand wat baie hoede dra, met baie kennis.

Hy deel met dat hy tans aan ’n nuwe program werk, Oppi Noot. Dit sal in 2024 opgeneem word en is ’n sang-gebaseerde speletjiesprogram.

“Dis iets heeltemal nuuts en oorspronkliks.”

Vir iemand wat so besig is, mag jy dalk wonder wat doen Johan Stemmet in sy vrye tyd? Johan maak kitare.

“Die stokperdjie is heerlik, kreatief, ontspannend. Dis geweldig bevredigend as jy met ’n stuk hout begin en uiteindelik met ’n musiekinstrument in die hande sit.”

Net so is familie belangrik vir Johan. Hy sien uit na Kersfees saam met sy gesin en die opgewondenheid wat dit elke jaar vir sy kleinkinders bring.

“Ons gaan lekker saam kuier en gesellig wees.”

Johan herinner die Weskussers om die lewe en alles wat dit aanbied te waardeer.

“Waardeer hierdie pragtige omgewing wat ons bevoorreg is om ons blyplek te kan noem.

“Waardeer mekaar en die voorreg om bymekaar te kan wees in hierdie geseënde tyd van die jaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article