Verskeie inwoners in die Malmesbury- omgewing is onlangs deur mense wat hulle as lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens voordoen, gekontak rakende beweerde dwelm-, mensehandel- of
bedrogverwante sake.
Op slagoffers se navraag is ‘n bedrag geld gevra sodat ‘n staatsaanklaer na die betrokke inwoners, wat kamma as ver-
dagtes beskou word, se sake kan kyk en dit kwansuis laat verdwyn. Sommige klaers het volgens die polisie wel vir die strik geval en is nou ‘n paar duisend rand kwyt, terwyl met verdere ondersoek vasgestel is dat die beweerde beamptes, tesame met hul rang en posisie, wel in diens van die polisie is.
Sers. Henry du Rand, ‘n woordvoerder vir die Malmesbury-polisie, het dit duidelik gemaak dat geen lid van die polisie ‘n klaer sal bel en betaling sal eis om ‘n dossier voor ‘n staatsaanklaer te bring – of om ‘n dossier “te laat wegraak” nie.
“Indien mense wat hulle as ‘n polisiebeampte met so ‘n versoek voordoen en mense bel, moet hulle onmiddellik hul plaaslike stasiebevelvoerder en speur-hoof besoek. Geen persoonlike inligting van ‘n lid van die polisie of ‘n lid van die publiek word aan enigiemand uitgegee nie.”
Du Rand voeg egter by dat dit maklik is om inligting te bekom oor ‘n lid se naam, van en rang. Hy waarsku mense om paraat te wees wanneer hulle ‘n verdagte oproep ontvang waar beweer word dat hulle by enige misdryf betrokke is. “Gaan na jou naaste polisiekantoor om jou te vergewis van so ‘n vermeende misdryf en die waarheid daaragter.”




