Nie kleine Dee-Jay Don (5) óf sy familie sou ooit kon dink dat sy middagslapie op Maandag 10 Februarie sy laaste sou wees nie.

Hy is dood kort nadat ’n elle lange Kaapse kobra hom in die bed gebyt het.

Volgens sy oudste broer, Verno Summers (24), het dié gr. R-leerder aan die E.J. Malgarte Primêre skool in Stompneusbaai, ’n buurt in St. Helenabaai, ’n middagslapie ná skool geneem.

Hy het skielik gegil, waarop sy ma, Zenobia Don (30), ’n elle lange Kaapse kobra in die bed waarop Dee-Jay geslaap het, sien lê het.

Die slang het hom aan sy handjie gebyt en hy het glo geskree van die pyn en gesê dit brand.

Sy familie het Dee-Jay onmiddellik na die Vredenburg- provinsiale hospitaal sowat 22 km daarvandaan gehaas, maar met hul aankoms by die hospitaal het personeel tevergeefs probeer om hom te red.

’n Sigbaar hartseer Summers vertel dat Dee-Jay ’n opgewekte kind was wat elke dag nie kon wag om ná sy middagslapie af water toe te gaan nie. Dit was waar hy die gelukkigste was en waarheen hy net die heeltyd wou gaan.

Die “Onderblok”, waar die gesin se houthuisie saam met nog ’n paar ander losstaande huise langs die Lucky Star-visfabriek staan, is reg by die water.

Summers skat die kobra was sowat 1,2 m lank. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) word volwasse Kaapse kobras – wat ook geelkobras, geelslange of koperkapelle genoem word – tussen 1,2 m en 1,6 m lank. Hulle byt met hul vaste voorste slagtande en dra ’n kragtige en vinnig werkende neurotoksiese gif oor, wat lewensgevaarlik vir selfs volwassenes is.

Gewoonlik sal Kaapse kobras, volgens Sanbi, eerder weg van mense af vlug, maar waarom dié een besluit het om in die bed in te seil, sal vir altyd ’n tragiese raaisel bly.

In ’n video wat op sosiale media aangestuur is, kan gesien word hoe twee slangvangers die lang slang ná die voorval kom verwyder.

Dee-Jay se gr. R-onderwyseres by E.J. Malgarte sê sy onthou hom “soos konfyt en heuning”. Hy was ’n kind wat by die skool- en klaskamerreëls gehou het en altyd betyds was, sonder verskonings. “Standvastig en getrou.”

Summers was nie ten tyde van die voorval tuis nie en Dee-Jay se pa, JawDee Don (41), was by sy werk by ’n koffiewinkel in St Helenabaai.

Begrafnisreëlings was nog nie teen druktyd bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article