Vyf Weskussers sal volgende jaar na Marokko reis om die land in die Wêreld- en Afrika-potspel-kampioenskap te verteenwoordig.
Lede van Weskus-potspel is by die onlangse Suid-Afrikaanse agtbal-potspel-kampioenskap, wat in Saldanha plaasgevind het, gekies om in Oktober 2023 aan die twee groot kampioenskappe deel te neem.
Gert Hibbert is as kaptein van die Protea-meesterspan aangewys, terwyl Gerrit Botha as bestuurder van die senior span gekies is. Saam met dié twee sal Lynette Hibbert die bestuurder van die meesterspan wees en Jacques Cronje van die senior span, wat as lid teen van die wêreld se beste potspelspelers sal deelneem.
Al vier die spelers ontvang ook Protea-kleure vir die prestasie.
Eduard Röder is op sy beurt as hoof-skeidsregter vir die toernooie aangewys.
Dit is voorwaar ’n besondere prestasie vir Weskus-potspel, sê plaaslike spelers.





