“Ek neem niemand kwalik vir die botsing nie – nie die taxibestuurder nie en ook nie die ander bestuurder nie.”
Só het Magda Parker, die suster van Desmond Parker, wat Saterdagoggend (26 November) in ’n gru-botsing op die Piketbergpad gesterf het, Woensdag aan Weslander gesê.
Die tragiese botsing tussen ’n taxi en ’n transitovoertuig het aanvanklik die lewe van vier inwoners van Goedverwacht geëis, waarvan Desmond een is. ’n Vyfde passasier, ’n vrou, het Woensdagoggend aan haar beserings in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad beswyk.
Magda sê sy was Saterdagoggend by die werk toe sy die skoknuus van die botsing ontvang.
“Ek het so hulpeloos gevoel omdat ek nie op die toneel kon wees om uit te vind wat aangaan nie,” sê sy.
“Maar ek is ’n bietjie later laat weet dat my broer nie oorleef het nie en dat hy reeds in die taxi dood is.”
Die insittendes van die minibustaxi, van wie die meeste in Goedverwacht woon, was Saterdag 08:30 onderweg Piketberg toe om hul weeklikse inkopies te gaan doen toe die botsing by die Goedverwacht-aansluiting op die R399-pad gebeur het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is twee mans en ’n vrou op die toneel van die botsing dood en nog ’n vrou is later in die Radie Kotze-hospitaal oorlede. Helfrich sê verskeie ander passasiers het mediese behandeling in die hospitaal ontvang, terwyl ander met ernstige beserings na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is.
Billy Claassen, ’n woordvoerder van die landelike plaaswerker-en-ontwikkelingsorganisasie, het aan Weslander bevestig dat nog ’n passasier, Megail Cornelius, gisteroggend (Woensdag 30 November) in die Tygerberg-hospitaal aan haar beserings beswyk het.
Volgens Claassen het aanvanklike mediaberiggewing na vyf sterftes verwys, maar hy sê dit is ’n misverstand.
“Die vyfde passasier wat gesterf het, is eers Woensdag oorlede.”
Hy sou dié oorledene se familie gisteroggend by die Tygerberg-hospitaal ontmoet om hulle te ondersteun.
Die oorledenes is Ernst Lesch, Mandy Booys, Desmond Parker, Melanie Abrahams en Megail Cornelius.
Volgens Irvin Esau, ’n kerkraadslid van die Morawiese sendingkerk-gemeente op Goedverwacht, sal dienste vir drie van die oorledenes Saterdag 3 Desember en Saterdag 10 Desember gehou word. Twee is begrafnisdienste en die derde is net ’n roudiens. Hy sê die vierde oorledene se familie tref nog hul reëlings vir die begrafnis.
Begrafnisreëlings vir die jongste sterfte is nog nie bekend nie.
Magda sê sy is baie hartseer oor haar broer, maar dankbaar dat hulle verlede week vir oulaas “weer lekker kon opvang”.
“Skryf daar – maak dit duidelik – dat daar geen kwade gevoelens is teen enigeen wat betrokke was nie,” het sy aan Weslander gesê.. In ’n ander noodlottige voorval wat ook Saterdag gebeur het, het ’n vrou van Langebaan om 19:30 aan haar beserings beswyk nadat sy vermoedelik beheer oor haar voertuig in Kampstraat, Saldanha verloor het.
Die presiese oorsaak van hierdie ongeluk word nog ondersoek.





