Van 1942 tot 2024 – groot-oumagrootjie Rieka Prinsloo, oumagrootjie Riekie Loubser, ouma Alicia de Beer, Chloe Fourie en klein Noah Fourie.


Baba Noah se koms het onlangs die viering van vyf geslagte ingelui.

Riekie Loubser (60) van Saldanha sê dit was ’n besonderse voorreg om vyf geslagte onder haar dak te hê na Noah op 23 Januarie gebore is. “Ek het gehoop hy maak sy verskyning op my verjaarsdag, maar ek dink hy wou liewer sy eie spesiale dag gehad het,” spot Riekie.

Noah en sy ma, Chloe Fourie (21), woon saam met ouma Riekie in Saldanhabaai. Vir die blye geleentheid het Riekie haar ma, Rieka Prinsloo (81), en haar dogter Alicia de Beer (53) onthaal. Albei woon in ander dele van die land.

Riekie sê dit was veral wonderlik dat haar ma daar was om haar eerste agter-agterkleinkind te ontmoet. “Sy het drie weke gehad waarin sy elke dag met Noah kon deurbring. Sy is nie een vir foto’s nie, maar elke nou en dan is ons geroep om nóg ’n foto te kom neem,” vertel Riekie.

Die Saldanhabaaier sê sy besef ook hoe geseënd die gesin is om Rieka by hulle te hê, wat van Krugersdorp per vliegtuig na die Weskus gekom het.

“Ons weet nie of dit haar laaste kuier saam met ons sal wees nie. Die gedagte bly by my, want die lewe is eintlik baie kort en elke dag so kosbaar. Ja, dit is net genade en ’n groot voorreg om deel van vyf geslagte te wees.”

Op die vraag of die vier geslagte vroue enige karaktereienskappe deel, sê Riekie hulle is almal baie hardwerkend. “My man spot altyd ons werk hom moeg,” sê Riekie.

Benewens hul werksetiek het al die vroue ook ’n oog vir skoonheid.

Riekie was ’n haarkapper, en hoewel haar ma, Rieka, nie voltyds hare gesny het nie, het sy in vakansietye ander se hare in ’n salon mooigemaak.

Alicia, wat in Vereeniging woon, is ook ’n haarkapper en hoewel Chloe nie spesifiek hare hanteer nie, werk sy ook in die skoonheidsbedryf. Riekie meen dit is nie ver van wat die res van hulle doen nie en behels tog om ander te laat goed voel en hulle mooi te maak.

Dit is sekerlik te vroeg om te sê of Noah ook sy ma en oumas se oog vir mooimaak het, maar sy koms het gewis ’n mooi familie-geleentheid opgelewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article