In nog ’n naweek van geweld in die Weskus-polisiedistrik is ’n polisiekonstabel byna vermoor en vyf jong mans doodgesteek.
Dit volg kort op die hakke van ’n bloedige week waarin Heinrich Franklin Koras (17) van Diazville, Hershell “Frikkie” Moerat (20) van Hopland, Saldanha, en ene “Trigger” in George Kerridge op Vredenburg doodgeskiet is.
Alfredo April (39) (sien berig op bl.2) is Donderdag 29 Junie in Malmesbury doodgesteek en twee mans is in nog twee afsonderlike skietvoorvalle verlede week gewond.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-polisie, is Hershell Moerat (20) van Hopland, Saldanha, Woensdag 28 Junie doodgeskiet.
Moerat (20) is die middag omstreeks 16:10 in Beletrixstraat noodlottig deur die kop geskiet. Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.
In die eerste van ’n nuwe vlaag moorde en poging tot moord die afgelope naweek het ’n 28-jarige polisiekonstabel Saterdagoggend 1 Julie net-net aan die dood ontkom. Die polisiebeampte was van diens af toe hy na bewering deur Verno-Rico Casper (31) en Auburn Pieters (22) met messe gesteek is. Die slagoffer sterk tans in ’n Kaapstadse hospitaal aan.
Casper en Pieters is volgens Helfrich onmiddellik ná die poging tot moord in hegtenis geneem en het Maandag 3 Julie hul eerste verskyning in die Lutzville-landdroshof gemaak. Die motief vir die aanval word nog ondersoek.
Dieselfde dag, omstreeks 08:00, is die lyk van Luciano Jansen (32) in die kamer van ’n huis in Flaminkstraat, Langebaan, gevind. Hy het ’n steekwond aan die nek gehad. Eljaro Links (20) is in verband met die moord in hegtenis geneem en het Maandag in die Hopefield-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Later die dag is ’n 19-jarige jong man van Malmesbury, Kurtlin Swarts, omstreeks 22:30 met ’n mes doodgesteek. Twee 17-jarige verdagtes, wie se name nie bekend gemaak kan word nie omdat hulle minderjarig is, is vir die moord aangekeer en hulle het ook Maandag in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Sondagoggend omstreeks 04:00 is die 24-jarige Damian Jean-Claud Shane le Roux van Langebaan met ’n mes in die bors doodgesteek. Helfrich sê daar het glo ’n rusie in Benjamin-singel uitgebreek waarna die moord gepleeg is.
Ayanda Ntlazani (22) is ook Sondagoggend dood nadat hy met ’n mes in die maag gesteek is. Sy 21-jarige aanvaller, Eza Rolinyati, is op aanklag van moord in hegtenis geneem en hy het op Dinsdag (4 Julie) in die Citrusdal-landdroshof verskyn.
Die polisie ondersoek al die sake onverpoosd.





