Die gehore by die vertonings van die Let’s Carnivale: A Vaudeville Variety Show het behoorlik geskaterlag vir die talentvolle kunstenaars se manewales en fyn humor die afgelope naweek.
Gaste is op Vrydag 17 Mei en Saterdag 18 Mei by The Barn by Schaftplaas naby Langebaanweg, meegevoer na ’n era van kabaret en karnaval.
Die spitsvondige ringmeesteres Irit Noble het al singende as seremoniemeester opgetree en die dansers het mekaar afgewissel in asemrowende kostuums en ingeoefende choreografie.
Regardt Laubscher, ’n kulkunstenaar en komediant, het telkens humor en maag-vashou-oomblikke verseker. Daar was ook ’n vuuretende danseres, Miss Dez Days, en Miss Scar-Lit Hearts se item het ook akrobatiese toertjies in die lug ingesluit.
Ander vertolkers van die burlesque-vorm van dans was Holly Berry, Lady Magnolia en Penny Pinup oftewel Abby Masters, die vervaardiger van die vertoning.
Heerlike “karnavalkos” is in die pouse aangebied met onder meer spookasem as nagereg, soos dit hoort by ’n “karnaval”.
Ná afloop van die vertonings is daar gedans.


