Die voorgestelde ligging vir ’n beplande vulstasie op Dwarskersbos, waarvan die hersonering goedgekeur is.


Gemengde gevoelens.

Sommige inwoners is gekant teen die ontwikkeling van ’n vulstasie by Dwarskersbos, terwyl ander die voorstel verwelkom.

Die munisipale beplanningstribunaal het op 1 Julie ’n aansoek om ’n stuk grond op Dwarskersbos vir die ontwikkeling van ’n vulstasie te hersoneer, voorwaardelik goedgekeur.

Maar hierdie besluit beteken nie die koeël is deur die kerk nie. Slegs hersonering vir ’n vulstasie is goedgekeur, nie die ontwikkeling self nie.

Die goedkeuring van die hersoneringsaansoek behels die samevoeging van erf 151, 152 en 153 en hersonering van die grond van sakesone 1 na sakesone 6 kragtens artikel 60 van die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se verordening op munisipale grondgebruikbeplanning.

Volgens ’n skrywe deur Vivian Kotzee, direkteur van korporatiewe dienste by die munisipaliteit, behels die tribunaal se goedkeuringsvoorwaardes onder meer bepaalde vereistes vir toegangsroetes tot die vulstasie, wat ook die soort padbedekking en spoedhobbels insluit.

Die ontwikkeling op die gekonsolideerde eiendom word beperk tot drie brandstofpomp-eilande, kantoorruimte, ’n plek waar die personeel ’n blaaskansie kan neem en toilette vir mans en vroue.

Goedkeuring is ook toegestaan op voorwaarde dat die vulstasie nie ’n vragmotorhalte mag hê nie. Vragmotors met ’n gelaaide gewig van meer as 10 ton mag nie by die voorgestelde ontwikkeling toegelaat word nie. Hierdie besluit is geneem omdat daar nie voldoende draairuimte vir swaar voertuie sal wees nie. Slegs vragmotors wat brandstof kom aflewer, sal toegang tot die perseel kry en duidelike kennisgewingborde moet vir hierdie doel opgerig word.

Verder sal die handelsure van die vulstasie beperk word. Die vulstasie mag net van 06:00 tot 22:00 oop wees.

Volgens Kotzee se skrywe van 14 Julie aan almal wat skriftelike kommentaar op die aansoek ingedien het, het die tribunaal die aansoek goedgekeur op grond daarvan dat die vorige sonering reeds voorsiening gemaak het vir ’n verskeidenheid sakegrondgebruike, soos ’n drankwinkel, hotel, supermark of begrafnisonderneming, wat soortgelyke of meer nadelige impakte op die gebied kan hê as die voorstel om ’n vulstasie daarop te ontwikkel.

Volgens die skrywe sal die ontwikkeling werksgeleenthede skep en voordelig vir inwoners en toeriste wees.

Die voorgestelde vulstasie sal minder as 5% van die gekonsolideerde eiendom bedek en sal ongeveer 65 m van die naaste residensiële eiendomme oorkant die hoofpad wees.

Volgens Johan Moolman, ’n raadslid, is die munisipaliteit deeglik bewus van sommige inwoners se teenkanting van die ontwikkeling. Hy sê egter heelparty inwoners voel ’n vulstasie is ’n stap in die regte rigting.

Moolman sê die tribunaal het die aansoek goedgekeur en die munisipaliteit fasiliteer slegs die proses.

Hy moedig inwoners aan wat nie tevrede is met die besluit nie, om skriftelik teen 5 Augustus daarteen te appelleer.

Hoewel hersonering goedgekeur is, moet alle dokumentasie en kommentaar eers voor die munisipale raad dien voordat ’n besluit oor die ontwikkeling geneem kan word.

’n Openbaredeelnameproses, omgewingsimpakstudie en die aansoekproses om die nodige permitte en lisensies te verkry, moet nog plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article