Vullisdag in die Oudorp-buurt, Vredenburg, is al vir ‘n geruime tyd ‘n kopseer vir inwoners.
Hierdie kwessie raak nie net dromkrappers wat deur die vullis gaan en die strate in ‘n gemors agterlaat nie, maar is ook ‘n maatskaplike probleem. Volgens een inwoner wat anoniem wil bly, is die nuwe tendens dat kinders, veral seuns tussen 10 en 14 jaar oud, van vullisdrom tot vullisdrom in Vredenburg se woongebiede hardloop en krap op soek na kos en ander bruikbare artikels.
Wat die inwoner bekommer, is dat die jong kinders gewoonlik saam met mense tussen 20 en 21 jaar oud beweeg, geen skole bywoon nie, en assosieer met mense wat betrokke is by dwelmmisbruik en moontlik misdaad.
“Die huidige situasie is ontstellend en onaanvaarbaar vir maatskaplike orde in die gemeenskap, aangesien dit lyk of plaaslike sosiale of gemeenskapsorganisasies nie omgee vir die sosiale ontwikkeling en orde onder jeugdiges nie.
“Indien daar wel omgegee is, sou hulle in die belang van die jeugdiges, die breë gemeenskap, die ouers en Suid-Afrika opgetree het. Maar daar is ‘n duidelike neiging om die verantwoordelikheid af te skuif wanneer hierdie aangeleentheid bespreek word,” voeg die inwoner by.
Nog ‘n inwoner wat baie in Oudorp beweeg, meen dit gebeur nie net op vullisdag nie; jongmense beweeg gereeld alleen of in klein groepies doelloos deur die strate. “Waar is die departement van onderwys in hierdie storie? Waar is die geheime inspekteur wat al jare lank aan die gemeenskap belowe is? Waar is die onderwysers en ouers? Dis hoogtyd dat almal van hierdie rolspelers ‘n vorentoe-aksie neem.”
‘n Ander inwoner meen weer daar is ‘n kettingreaksie wat begin met vulliskrap en in misdaad oorgaan.





