Kathy McConnachie en Peter HuxhamFoto: Marguerite Chandler


Die families van die Langebaanse ingenieur Peter Huxham (55) en sy kollega Frik Potgieter (54), van George, wat steeds sedert hul inhegtenisneming op 9 Februarie 2023 in ’n tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word, het ’n aanlyn petisie, webwerf en sosialemediaveldtog van stapel gestuur om hul storie te deel en hul geliefdes se dringende vrylating te eis.

kathy en peter

Kathy McConnachie en Peter HuxhamFoto: Marguerite Chandler

Frik en Sonja Potgieter

Volgens die families is dié twee vasgevang in die politieke kruisvuur tussen Suid-Afrika en Ekwatoriaal-Guinee, ’n land aan die weskus van Afrika.

Weslander het verlede jaar berig die twee mans is destyds by die Anda China Malabo-hotel in verband met beweerde dwelm-misdrywe in hegtenis geneem.

Die twee ingenieurs sou die volgende oggend terugkeer huis toe – na Suid-Afrika – ná ’n vyf weke lange werkrotasie vir hul werkgewer, SBM Offshore.

Huxham en Potgieter is egter daardie aand afsonderlik na die hotelontvangs ontbied, onbewus daarvan dat hulle op die punt was om deur die Ekwatoriaal-Guinese polisie in hegtenis geneem te word op wat die families bestempel as “valse en gefabriseerde” aanklagte van dwelmhandel.

Die plaaslike polisie daar het destyds beweer die twee mans was betrokke by ’n besending kokaïen wat Ekwatoriaal-Guinee met ’n internasionale vlug binnegekom het (“Langebaner in berugte tronk”, 23 Februarie 2023).

’n Familie-verteenwoordiger van Huxham het destyds gesê die inhegtenisnemings het te doen met ’n “politieke speletjie” nadat die sakeman Daniel Janse van Rensburg siviele klagtes teen Ekwatoriaal-Guinee se visepresident, Teodoro Nguema Obiang Mangue, gebring het.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het toe bevind dat hy byna R40 miljoen aan Janse van Rensburg moet betaal as skadevergoeding vir onder meer sy aanhouding in die berugte Black Beach-tronk. Die hof het toe op ’n luukse seiljag asook twee villas van die vise-president in Kaapstad beslag gelê. Die klagtes teen Huxam en Potgieter is dae later gebring.

Die superjag is intussen terugbesorg, maar nie die villas nie. Die twee mans bly steeds in aanhouding in die tronk in Ekwatoriaal-Guinee nadat hulle op 29 Junie 2023 skuldig bevind is op aanklagte van handel in en onwettige besit van dwelmmiddels (“ ‘Onskuldig’ tronk toe: Langebaner in buiteland gevonnis”, 7 Julie 2023).

Shaun Murphy, ’n woordvoerder vir die Potgieter-familie, sê: “Ons het geen twyfel dat hulle onskuldig is nie, en twyfel geensins dat hul inhegtenisnemings net daarop gemik is om Suid-Afrika te dwing om die visepresident se eiendomme vry te stel. Dit is duidelik uit sy woede teen Suid-Afrika op Twitter / X toe Frik en Peter in hegtenis geneem is.

“Die veldtog is daarop gemik om alle partye te vra om te help om Frik en Peter se vryheid te verseker, maar veral die hulp van die Suid-Afrikaanse regering, en ook die Britse regering, aangesien Peter ’n dubbele burger van daardie land is. Ons was hoopvol toe Naledi Pandor, die SA minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ekwatoriaal-Guinee op 5 Mei vanjaar besoek het om vir die mans se vrylating te pleit, maar niks het sedertdien gebeur nie.”

Hy voeg by: “Geen familie behoort deur hierdie nagmerrie te gaan om hul geliefdes as gyselaars in ’n buitelandse tronk te hê of as politieke pionne gebruik te word nie. Daarom verenig ons deur hierdie veldtog om Suid-Afrika en ons eie regering te wys dat ons stemme om ons familielede huis toe te bring, nooit sal stil wees nie.”

Francois Nigrini, ’n woordvoerder vir die Huxham-familie, sê: “Die werklikheid is – aangesien dit ’n politieke geskil tussen Suid-Afrika en Ekwatoriaal-Guinee is – sal slegs ’n politieke oplossing hul vrylating verseker. Hulle moet huis toe gebring word, en om dit te doen, het die families nodig dat die Suid-Afrikaanse en Britse regerings alles in hul vermoë doen om hulle vry te kry.”

Meer inligting is beskikbaar op die webwerf www.freefrikandpeter.co.za, en sluit die aanlyn-petisie in wat beslissende optrede van die Suid-Afrikaanse Regering eis.

Die veldtog sal ook ’n aktiewe teenwoordigheid handhaaf oor groot sosialemediaplatforms, insluitend Facebook, X en LinkedIn, met behulp van die hutsmerk #freeFrikandPeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article