Die werk van 250 permanente werkers en 4 300 seisoenwerkers in die sagtevrugtebedryf is vir minstens nog ’n jaar veilig.
Die Ashton-vrugte-inmaakfabriek kan vir nog ’n jaar bedryf word sonder die swaard van sluiting oor sy kop nadat die eienaar, Tiger Brands, ’n ooreenkoms met vakbonde, werknemers en lede van die Vrugte-inmaakprodusentevereniging bereik het.
Die landbou-organisasie AgriSA het Tiger Brands se aankondiging verwelkom en gesê dis ’n groot verligting vir die vrugtesektor en die gemeenskappe wat vir hul lewensbestaan van die fabriek afhanklik is.
Dit sal ook potensiële kopers meer tyd gee om die geld te vind om die fabriek te red.
Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, en Mireille Wenger, die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het ook die nuus verwelkom.
Hoewel ’n aansienlike aantal potensiële kopers vir die fabriek beskikbaar is, gaan ’n transaksie nie betyds vir die volgende oesseisoen beklink kan word nie, het die voedselgroep gister in ’n Sens-verklaring bekend gemaak.
Die ooreenkoms met die belanghebbers sal die maatskappy langer kans gee om ’n koper te soek.
Dit gee die maatskappy die kans om die werkers se poste vir nog ’n seisoen te beskerm, het Noel Doyle, uitvoerende hoof van Tiger Brands, gesê.




