’n Sensasionele viering van die vroulike vorm, en vryheid, sonder om álles weg te gee.
Agt ervare Burlesque-kunstenaars het die Weskus Saterdagaand (11 November) ingeval met ’n triomfantlike vertoning soos nog nooit dié kant van Kaapstad ervaar is nie. Hulle is tegelykertyd talentvolle aktrises, dansers en komediante.
Die sowat 220 gaste by die splinternuwe The Barn @ Schaftplaas tussen Langebaanweg en Hopefield het die kunstenaars met tye luidrugtig aangespoor. Meer as die helfte van die gaste was vriendinne wat tafels vir die aand bespreek het. Dit was verblydend om te sien dat vroue ander vroue só ondersteun en aanmoedig.
Penny Pinup, vervaardiger, visioenêr én betowerende burlesque-danser, het as verteller die gehoor met elke “onthullende evolusie”-solovertoning ’n bietjie meer vertel oor die ontstaan en groei van die burlesque-beweging. Die term “burlesque” is afgelei van “burla”, die Italiaanse woord vir “grap” of “bespotting” en dit het aanvanklik in die 1600’s in Europa begin. In die 1930’s het dit ’n oplewing in Amerika beleef, maar later weer doodgeloop. Die moderne weergawe, oftewel neo-burlesque, het in die 1990’s gewild geword in ’n era waarin mense al verveeld is met eksplisiete tonele in televisiereekse en rolprente.
Benewens die talentvolle Penny Pinup het die aangrypende Jezzy Belle, die bekoorlike Bon Bon, die ondeunde Betty Behave, die passievolle Mizz Chief, die sprankelende Diva Disastar, die vurige Lady Magnolia en die singende Velvet Letter elkeen hul eie persoonlikheid en storie na die verhoog gebring.
Hulle het die gehoor met allerhande boheemse uitrustings (wat maklik minder gemaak kan word!), ondeunde trekke om die oë en groot, breë glimlagte laat skater.
Die gaste was uitgedos in hul eie weergawes van “burlesque”, met vere, hoede, fraiings en baie rooi en swart.
Met hul aankoms is hulle getrakteer op fynproewer-vingerhappies en ’n verskeidenheid skemerkelkies op die grasperk. Daarna is oor die rooi tapyt beweeg na keurig versierde tafels in die skuur vir die vertoning. ’n Aandete is in die pouse en nagereg ná die vertoning voorgesit.
Niemand wat kaartjies na dié gebeurtenis gekoop het, het verwag dat dit heilsame gesinsvermaak gaan wees nie, maar mense was tog aangenaam verras met die stylvolheid en kunstigheid waarmee dit aangebied is.
Koop volgende jaar betyds jou kaartjie, want Penny Pinup-hulle kom terug.





