Die Darling-rugbyklub bied Saterdag 3 Februarie sy 23ste 7’s-toernooi aan.
Altesaam 24 spanne neem vanjaar aan die toernooi deel, terwyl twee vrouerugbyspanne ook hul staal sal wys en ses netbalspanne sake op die baan sal uitspook.
Die aksiebelaaide sportdag begin om 09:00 op die Gabriel Pharoah-sportterrein.
Prysgeld vir die dag beloop R40 000.
Volgens die klub se voorsitter, Jonathan Petersen, is die doel van die dag nie net om rugby onder jongmense van die dorp te bemark nie, maar ook om die dorp en gemeenskap van Darling te bemark om “so ook vennootskappe met ander klubs en gemeenskappe te bou”.
Petersen het buiten die dag se borge – Darling Romery, Darling Brew, Cicil2000, Darling Green Estate, Sibuthatu Mining, Kirsten-vervoer en Ormonde – ook die Boland-rugbyunie en Swartland-munisipaliteit, wat hierdie inisiatief ondersteun, bedank.
Toegang kos R20 vir volwassenes en R10 vir kinders bo 12.
Kosstalletjies en ’n biertuin sal ook beskikbaar wees.




