Sy borgtogaansoek is geweier.
Frans Moses, die lewensmaat van wyle Hannie Mpayipheli (44) van Noordhoek, Velddrif, is steeds agter tralies nadat sy borgtogaansoek op 18 Mei in die Laaiplek-hof geweier is.
Weslander het vroeër vanjaar berig dat Mpayipheli op Nuwejaarsdag vanjaar aan komplikasies weens ernstige beserings gesterf het.
Mpayipheli is glo op 4 Desember verlede jaar deur Moses aangerand.
’n Strafregtelike saak is by die Laaiplek-polisie aanhangig gemaak en Moses is in hegtenis geneem. Hy is egter weer vrygelaat en deur die hof gewaarsku om van sy gesin af weg te bly.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is Moses vroeër al ook by verskeie geleenthede in hegtenis geneem omdat hy Mpayipheli glo aangerand het.
Moses het na bewering ná sy vrylating een van die egpaar se kinders “ontvoer” en na ’n plaas in die omgewing geneem.
Hy het glo geëis dat Mpayipheli vir hom geld vir drank en dagga bring. Hy het Mpayipheli op dié manier van haar huis na die plaas gelok, waar sy op 12 Desember na bewering deurnag met ’n ystervoorwerp aangerand is.
Die bure het hulp ontbied en volgens Mpayipheli se familie is sy daarna in die Somerset-hospitaal in Kaapstad opgeneem, waar sy verskeie noodoperasies ondergaan het. Sy is op 24 Desember ontslaan en het by haar suster se huis aangesterk, maar is op 1 Januarie weens komplikasies dood.
Helfrich het vandeesweek verduidelik dat ’n geregtelike doodsondersoek aanvanklik geopen is, wat later na ’n klag van poging tot moord verander is.
Die hof sou na aanleiding van die uitslag van die lykskouing bepaal of die saakdossier na ’n moordondersoek verander moet word.
Helfrich het vandeesweek gesê uitsluitsel hieroor is nog nie ontvang nie.
Moses sal tot 6 Junie in aanhouding bly wanneer hy weer in die hof sal verskyn.


