Frans Moses van Noordhoek in Velddrif is Vrydag 10 Februarie in die plaaslike streekhof weens die moord op sy lewensmaat gevonnis.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het Moses verlede Vrydag skuld op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die aanklag van moord bekend.
Die slagoffer, Hannie Mpayipheli, wat ten tyde van haar dood 44 jaar oud was, is meer as ’n jaar gelede herhaaldelik op twee geleenthede in Desember 2021 wreedaardig deur Moses aangerand. Sy is in die hospitaal opgeneem, het verskeie noodoperasies ondergaan, maar is op 1 Januarie 2022 tragies aan haar beserings dood.
Die aanvanklike aanklagte teen Moses was aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord. Die tweede aanklag is egter na moord verander nadat Mpayipheli gesterf het en nadere ondersoek ingestel is.
“Moses het die oorledene op 4 Desember 2021 met ’n koevoet aangerand omdat hy nog dagga wou hê,” het Helfrich na aanleiding van sy pleitverduideliking gesê.
“Nadat hy vrygelaat is, het hy haar weer op 12 Desember 2021 aangerand – dié keer met ’n [ander] ystervoorwerp. Sy is op 24 Desember uit die hospitaal ontslaan, waarna sy by haar suster gaan woon het, maar op 1 Januarie 2022 dood is.”
Moses was sedert 29 Desember 2021 in aanhouding.
Helfrich sê die aanklagte teen Moses, wat nou 41 jaar oud is, is verlede week in die streekshof saamgevoeg en hy is 10 jaar effektiewe tronkstraf vir die twee misdrywe opgelê, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Moses is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Speursersant Emilio Benjamin van Laaiplek-polisie het die saak ondersoek.



