Vrouemotorfietsryers van die Weskus én die Kaap het Saterdag (6 Mei) die 18de internasionale motorfietsrydag vir vroue (International Female Ride Day) gevier deur ’n sirkelroete deur Vredenburg, Saldanha en Langebaan te ry.
Dié motorfietsrydag vir vroue is ’n beweging om vroue in motorsport te vier en vrouemotorfietsryers in meer as 120 lande neem jaarliks wêreldwyd aan massaritte deel.
Volgens Elfrieda Engels, wat die motorfietsrydag vir die tweede jaar in die Weskus gereël het, word dié internasionale dag aan die Weskus onder die Cancervive-vaandel gevier.
Cancervive, ’n organisasie sonder winsoogmerk, beywer hom om mense bewus te maak van die vroeë opsporing van kanker en ondersteun ook kankerlyers en hul families.
Die groep motorfietsryers, wat ook mans ingesluit het, het Saterdagmiddag van die Phoenix Biker Pub in Vredenburg weggetrek en die vroue is eers in Saldanha by Captains Cabin en toe by Watergat in Langebaan onthaal.
Terug by Phoenix het die motorfietsryers heerlik aan kos by die Dikkalicious-stalletjie gesmul terwyl Wilbur Smit die musiek verskaf het.
Engels het – voordat hulle weggetrek het – benadruk hoe belangrik dit is om kanker vroeg genoeg gediagnoseer te kry. Sy is self ’n kankeroorwinnaar wat al baarmoeder- en slukdermkanker moes bestry. Terwyl sy 21 jaar lank by die Kankervereniging van Suid-Afrika ander mense met kanker ondersteun het, het sy nooit gedink dit sou oor haar pad kom nie.
“Kanker vat jou net. Jy kan nie kies of jy dit kry of nie.”
Vrouemotorfietsryers het van so ver as Somerset-Wes, Bellville en Parow gekom om die dag te ondersteun.





