Kwinkslae wat die gehoor dubbeld laat vou van die lag, histeries-snaakse oomblikke, en skerp kommentaar oor die oorgebruik van tegnologie is wat die verhoogstuk, That’s what she said, Vrydagaand (21 Julie) vir die Weskusgehoor by Die Koelkamers-teater in Paternoster kom opdis het.
Luella Holland en Megan Spencer se weergawe van die Siri-app sal vir ewig in die geheue gebrand wees as ’n effe dronk, sensuele wese wat al amper ’n hele bottel sjampanje uitgedrink het – dié dat sy die heeltyd so verkeerd hoor . . .
Ook het die mens se absurde obsessie met sosiale media onder skoot gekom, veral die invloed wat dit op kinders in die TikTok-generasie het.
Die vroue se mengelmoes van musiek, stand-up komedie en skreeusnaakse sketse het telkemaal verras en vermaak.
Die gehoor is huistoe gestuur met glimlagte op hul gesigte, maar ook baie om oor die mens se gebruik (ook misbruik) van tegnologie te gaan nadink.
Dit was nog ’n briljante aanbieding by Die Koelkamers. Besoek gerus hul webwerf by diekoelkamers.com





