Die Military Academy Combined Club (MACC) van die Militêre Akademie het Dinsdag 10 Augustus besoek aan Diazville Primêr gedoen om sanitêre doekies te skenk.
Die vroue van die MACC het geld ingesamel om die inisiatief aan die gang te kry en sodoende vir Vrouemaand in die gemeenskap terug te ploeg.
Korporaal Sue-listee Mckay sê hulle besef baie jong meisies kan nie sanitêre doekies bekostig nie. “Soms aanvaar ons dit as vanselfsprekend dat alle jong meisies en selfs vroue sanitêre doekies het en gebruik. Maar ons weet in ons gemeenskap en in vandag se lewe gaan dit maar swaar en nie almal het die luuksheid om dit te koop nie,” sê Mckay.
“Ons wou net help om in die behoefte van iets só belangrik te voldoen.”
Die onderwysers en leerders was baie dankbaar. Die MACC-vroue was ook bly dat hulle iets vir die jong vroue in hul gemeenskap kon doen.



