Plakkers. Skuim. White bitches. Hulle is al erger name genoem, én dit lê die hele Elandsbaai vol dat hulle nie vir hul lankstaan-kampeerplekke betaal nie.
Maar Hetta van Greunen (62), Ella Ahlers (58) en Ronel Wilde (56) het nooit verwag dat hulle in die kampeerplek “gevange” gehou sou word nie. “Ons is toegesluit in die kamp, Suster. Ons is toe!”
Hulle was teen druktyd al sedert Dinsdag 17 Oktober sonder water en krag in die kampeerterrein toegesluit. Die Cederberg-munisipaliteit het wel die water en krag Dinsdagaand van 19:00 tot Woensdagoggend 10:00 aangeskakel, maar dit weer die volgende oggend afgeskakel.
Die badkamers, toilette en hekke het gesluit gebly. Die vroue kan nie met hul motors uit nie en moet oor die hek klim om by die kafee uit te kom. Goedhartige inwoners het vir hulle drinkwater gebring.
Die vroue kon egter bewyse van betaling aan Weslander toon, waaruit dit duidelik blyk dat hulle wél tot op datum vir hul staanplekke betaal het. Só ook Daan Wiese, die vierde van ses lankstaankampeerders. Hy kan nou weer nie inkom nie.
Die sowat R700 000 wat die lankstaankampeerders per jaar betaal het, is ook nou volgens die munisipaliteit “weg”. Dit is nie duidelik of dit die rede is waarom daar hard probeer word om die kampeerders uit te jaag nie.
Twee wetstoepassingsbeamptes het die kampeerders Dinsdag eers kom inlig dat hulle ’n uur het om alles te ontruim en ’n uur later alles kom afsit en toesluit.
Die rekening waarin die kampeerders die geld betaal het, soos aangesê deur die “kampopsigter”, ’n munisipale amptenaar wat volgens die vroue se kennis op die oomblik geskors is, lyk verdag. Op die betaalbewyse word dit aangedui as “CEDERBERG MUN TRAFFI PLOT 30”. Die betrokke beampte het glo aan hulle verduidelik dat die geld, omdat dit van ’n Standard Bank-rekening na ’n rekening by dieselfde bank betaal word, eers in die Cederberg-verkeersafdeling se rekening inbetaal word voordat dit na die munisipaliteit se “hoofrekening” oorgeplaas word.
Die vroue, wat tussen een en drie jaar al die staanplekke het, voel deur die munisipaliteit en die gemeenskap van Elandsbaai geviktimiseer. “Die mense dink ons betaal nie. Ons het die slaansakke van die munisipaliteit geraak.”
Hulle is nie bereid om alles te verloor soos ander lankstaankampeerders wat maar opgepak en padgegee het nie.
Hulle is ook al gedreig dat hulle nie moet uitpraat nie, want “julle bly in tente”. Die kampeerders het by die munisipaliteit se voorskrifte gehou dat hulle net strukture van tentmateriaal mag oprig.
Een van die kampeerders het oor die hek geklim om ’n saak by die polisie aanhangig te maak, maar die beampte agter die toonbank wou glo glad nie ’n verklaring by haar afneem nie omdat die munisipale amptenare aan hulle gesê het dat die kampterrein “verkoop” is. Dit behoort, volgens die vroue se kennis, aan die departement van grondsake wat dit aan die munisipaliteit verhuur.
Die vroue het vroeër vanjaar ’n dispuut met die munisipaliteit verklaar, maar daarvan het dadels gekom. Daar is selfs ’n prokureursbrief in September aan die munisipaliteit gestuur waarin vir ’n billike proses gevra word.
Van die kampeerders het tot R100 000 uitgegee om hul staanplekke toe te rus. Ella vertel dat sy en haar oorlede lewensmaat, Bernard Pedro, wat verlede jaar in St. Helenabaai vermoor is, nog hul plekkie saam ingerig het.
Die vroue het geen ander heenkome nie. Al hul geld is daarop uitgegee om nie net hul staanplekke nie, maar ook die kampterrein self in stand te hou. “Daar word al jare niks aan die terrein gedoen nie.”
Die kampeerders het onder meer geverf, ’n hek opgesit, kameras en sonaangedrewe ligte aangebring, en hulle hou self die grasperk en tuin in stand, en doen die herstelwerk.
Die munisipaliteit het glo aanvanklik 25 permanente staanplekke aangewys, met die kampeerders wat vyfjaarkontrakte belowe is.
Twee maande gelede het die munisipaliteit hulle kom inlig dat hulle moet uit, of net vir drie maande mag kampeer en ’n maand moet weggaan, wat prakties onmoontlik is. Terselfdertyd is hulle meegedeel dat die kamptarief met 118% styg, waaroor hulle ’n dispuut met die munisipaliteit verklaar het. Hierna het hul ’n skrywe gekry wat hulle beveel om teen 16 Oktober uit te wees.
“Die lankstaankampeerders dra geldelik die kampeerplek tydens stil toerisme-maande. Moet ons nou buite die hek gaan staan, ons goed net so los?”
Volgens Anthony Mlata, woordvoerder van die munisipaliteit, is besluit om die woonwapark tydelik vir opknapping te sluit. Volgens die munisipaliteit het hulle op 12 Julie 2023 die kampeerders oor die nuwe tariefstruktuur en die tydperk van okkupasie in ooreenstemming met munisipale verordeninge ingelig. Mlata het ook gesê dat daar op 12 September ’n kennisgewing by elke kampeerder afgelewer is waarin uiteengesit word dat die ontruiming, opgradering en opknappings middel-Oktober gaan begin.
Dienste (water en krag) is opgeskort weens veiligheidsmaatreëls met die opknappingsproses. Weslander het nóg vra aan Mlata gestuur nadat verdere inligting bekendgeraak het.




