Wat maak Petra Mei Ebete daar? As deel van haar aanbieding by die eerste Transformed Women’s Ministry het sy dié asblik en sy inhoud as ’n les aangewend.Foto: Alida Buckle


Wat is die doel van ’n silwerskoon wipdeksel-asblik met ’n blikkie baked beans, ’n pak speelkaarte, ’n spuitbottel met ’n hondeproduk, ’n kopdoek en ’n stel vals oogwimpers?

Dit is alles deel daarvan om ’n gemeenskap van vroue te stig wat hul ware identiteit in Jesus Christus deur die Woord van God verken, is Petra Mei (Ebete), bekende seremoniemeester, se boodskap.

Tydens die Transformed Women’s Ministry (TWM) se stigtingsvergadering Saterdag (10 Februarie) by die Beacon-kerk in Langebaan, is dié asblikitems as besprekingspunt neergesit voordat getuienis gelewer is, die doelwitte van die nuwe organisasie bespreek is en almal heerlik saam geëet en gesels het.

Al die vroue en ’n man – pastoor Gereldo Pieters – by dié kleurvolle vergadering was dit eens – as dit die standaard is waarvolgens dié nuwe organisasie sonder winsbejag sy sake gaan doen, kan dit nie anders as om uit te kring na iets veel groter nie.

Mei het met haar kenmerkende tong-in-die-kies-aanbieding tog die ernstige boodskap oorgedra dat TWM duidelik uiteengesette doelwitte nastreef en hul huiswerk baie deeglik gedoen het. Dit was haar, haar man, Chuks Ebete, en haar oorlede ma, Siena Tsapa, se droom om dié beweging vir vroue te begin.

Hulle wil onder meer ’n traumasentrum vir die Weskus op die been bring, waar vroue traumaberading en emosionele ondersteuning kan kry.

Ouer-opleiding-werksessies om vroue met beter ouerskap te help en uitreikaksies na tienermeisies word ook beplan.

Mei beoog om dit vir vroue moontlik te maak om in hul geloof te groei deur geleenthede, uitstallings, werksessies, sosiale byeenkomste en konferensies te hou. Vroue gaan selfs van etiket – soos om betyds te wees en watter vurk om by ’n deftige geleentheid te gebruik – geleer word.

Sy droom daarvan dat die vroue mekaar geestelik, fisiek, maatskaplik en verstandelik sal help opbou.

“Die klem in bediening lê op die woord ‘dien’. Ons gaan mekaar hier dien soos Jesus mense gedien het.”

Sy het benadruk dat lede van TWM se hande gaan vuil word en hul voete seer.

’n Ma-en-dogter-oggend in September en ’n Kersfees-oggendtee in Desember is reeds op TWM se kalender vir 2024.

TWM benodig vrywilligers vir verskeie rolle – om by geleenthede te help, vervoer te verskaf, ’n fotograaf of videograaf, ’n administratiewe persoon, ’n kreatiewe denker wat die dekor wil doen, ’n sosialemedia-administrateur, ’n boekhouer, ’n ouditeur en ’n logistieke koördineerder.

“Ons wil op ’n plek kom waar ons net vroue kan nooi sonder dat hulle vir die geleentheid hoef te betaal.”

Maar Mei droom nie net oor die Weskus nie. Sy wil eendag voor miljoene vroue staan om die waarheid oor Jesus aan hulle oor te dra, op Mei se opregte en eg Weskus-manier.

Soos die asblikitems, wat toe nié aandui wie die nuwe “bure” is nie, maar eerder dat vroue nie mekaar moet oordeel volgens materiële dinge nie.

Nog ’n groot projek is hulle Care Project waarmee die Spar-winkelgroep ingewillig het om hande te vat om die gebrek aan sanitêre doekies onder arm tienermeisies die hoof te bied.

Mei het benadruk hulle gaan ook kinders opvoed oor higiëne en die gebruik van die produkte. Die doelwit is om 10 000 pakke doekies teen die einde van November te versprei.

Lesers kan tot die Care Project bydra deur doekies by Spar te koop en dit in die houers daarvoor te gooi.

Bel Mei by 061 051 7433 of stuur ’n e-pos na transformedwministry@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article