Frank en Isabelle Scheun in gelukkiger tye.


Nadat die Frank Scheun-moordsaak lank stil was, is daar uiteindelik nuwe verwikkelinge.

Isabelle Scheun het Dinsdag 7 Maart in die streekshof in Vredenburg op aanklagtes van moord en dwarsboming van die gereg verskyn met betrekking tot haar man se dood in hul huis in Velddrif vyf jaar gelede.

Frank Scheun is einde Februarie 2018 met steekwonde aan sy lyf dood in die stort aangetref.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het net ná die voorval in 2018 aan Weslander gesê Isabelle het aan die polisie vertel sy het laatmiddag die Donderdag van Frank se dood inkopies gaan doen en toe ’n draai by ’n vriendin gemaak voordat sy weer huiswaarts gekeer het.

In ’n emosionele telefoniese gesprek met Weslander het Isabelle gesê sy het die voordeur oopgesluit en water binne die huis hoor loop. Sy het glo aan­vaar dat Frank stort en gaan sit om ’n tydskrif te lees. Volgens haar het sy gaan kyk waarom Frank so lank stort en hom dood in die stort gekry, met die water steeds oopgedraai.

In haar onderhoud destyds met Weslander het Isabelle gesê sy is onskuldig en sy het vertel Frank was baie depressief. Volgens haar het Frank sy eie lewe geneem. Die deure was gesluit en die vensters toe en geen tekens van gedwonge toegang tot die huis is gevind nie.

Volgens Helfrich het die nadoodse ondersoek bevind Frank het nie sy eie lewe geneem nie.

Isabelle is reeds op 16 April 2018 van die moord op haar man aangekla.

Helfrich het vandeesweek aan Weslander verduidelik Isabelle het oor die jare ’n hele paar keer in die hof verskyn voor die saakdossier na die direkteur van openbare vervolging verwys is.

Frank se familie, wat steeds na antwoorde soek, het teen einde verlede jaar Weslander se kantore ’n paar keer besoek om hul ontevredenheid te deel oor die saak wat so sloer.

In amptelike hofdokumente van November 2021, waarvan Weslander ook ’n afskrif het, het ’n landdros bevind Isabelle moet vir Frank se dood verantwoordelik gehou word. Sy familie was ontsteld dat daar teen einde 2022 steeds geen geregtigheid vir Frank was nie.

’n Antwoord is onlangs uiteindelik van die departement van openbare vervolging ontvang en Isabelle is gewaarsku om die afgelope Dinsdag in die hof te verskyn.

Volgens Helfrich word Isabelle van moord aangekla, asook van dwarsboming van die gereg omdat daar glo gepoog is om die moordtoneel skoon te maak. Isabelle moet weer op 3 Mei in die hof verskyn.

Isabelle en Frank het in die Piketberg-omgewing gewoon voor Frank se aftrede waarna hulle Velddrif toe verhuis het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article