Dit is dikwels nie maklik vir vroue om hul gewelddadige lewensmaats of eggenote by die polisie te verkla nie – juis omdat hulle vir hul lewe vrees.

Een só vrou van Moorreesburg was egter Maandag 27 Maart dapper genoeg om ’n klag van gesinsgeweld teen haar 32-jarige man aan te meld nadat hy glo gewelddadig teenoor haar was.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die Moorreesburg-polisie Maandag om 08:35 op die 38-jarige vrou se klagte gereageer en haar na Roosboomstraat in Koringberg vergesel, waar hulle haar man aangetref het.

Die man het haar in die teenwoordigheid van die polisie om die nek gegryp en gedreig om haar met ’n mes te steek.

Helfrich sê die polisie het die man gewaarsku om die vrou te laat gaan, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie en die mes in haar buik gesteek.

Die beseerde slagoffer het weggehardloop en haar man het haar agternagesit – steeds met die mes in sy hand.

Die polisie het hom probeer keer, waarna hy op ’n polisielid ook afgepyl het. Die polisieman het die verdagte in die proses beseer.

Daarna het die man probeer vlug, maar hy is aangekeer en in hegtenis geneem. Hy het mediese behandeling vir sy besering ontvang.

Volgens Helfrich sterk die vrou in die Paarl- provinsiale hospitaal aan.

’n Klagte van poging tot moord word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article