Dit is nou amptelik – die vrou op wie se halfnaakte lyk veiligheidsbeamptes Donderdag 18 Mei op die strand by Tabakbaai, Saldanha, afgekom het, is wel vermoor.
Luidens die amptelike verslag na aanleiding van die lykskouing van Fillda Patricia Vaughan (34) is haar dood veroorsaak deur “asfiksie”, wat beteken dat iemand haar verwurg het.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskusdistrik, sê ’n moordsaak word ondersoek.
Die polisie het reeds iemand van belang ondervra, maar niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie.
Vaughan se familie en vriende het van haar dood uitgevind via ’n uiters onsensitiewe video wat omstanders van haar halfbedekte lewelose liggaam gemaak en op sosiale media versprei het.
Helfrich het met die ontdekking van die lyk daarop gewys dat Vaughan veelvuldige beserings aan haar lyf gehad het, wat ’n bytmerk van ’n mens aan haar skouer insluit.
Enigiemand met meer besonderhede word gevra om AO Heinrich Schmidlin, die ondersoekbeampte in die saak, by 079 894 0082 te bel.





