’n Ouer egpaar is eergisteroggend in hul huis op die plaas Klipheuwel in die Moorreesburg-omgewing aangeval.

Die vrou, Ingrid Koch (65), het weens ’n steekwond aan haar nek in die aanval gesterf en haar man, Frans (69), is in sy wang gesteek, maar het genadiglik die aanval oorleef.

Volgens ’n verklaring wat die Moorreesburg-polisie Dinsdag ’n paar uur ná die voorval uitgereik het, is die polisie omstreeks 11:15 na die plaas ontbied waar ’n groep mense saamgedrom het.

By die groep was ’n man met vasgebinde hande en voete.

Een van die omstanders het die polisie meegedeel die vasgebinde man is ’n boosdoener wat die Koch-egpaar kort vantevore, tussen 10:30 en 10:40, in hul huis aangeval het.

Die plaaswerkers het die aanvaller agternagesit en hom gou gevang.

Luidens die verklaring het die polisie daarna die huis ingegaan en ’n paramedikus aangetref wat besig was om die gewonde Frans te behandel.

Ingrid het leweloos op die vloer gelê.

Sy is op die toneel dood verklaar en Frans is na die hospitaal geneem. Hy is in ’n bestendige toestand.

Na wat verneem word het die aanvaller na die plaashuis gekom en vir water gevra. Hy het die huis met ’n mes binnegegaan en die egpaar oorval. Terwyl die egpaar met die aanvaller gestoei het, is Frans en Ingrid met die mes gesteek.

Volgens die Moorreesburg-polisie het die huiswerker buitentoe gehardloop toe sy ’n kans kry en gaan hulp soek.

’n Groep plaaswerkers het die egpaar dadelik te hulp gesnel en die aanvaller het geen wegkomkans gehad nie.

Die verdagte (34) is op aanklagte van moord sowel as poging tot moord in hegtenis geneem en sal vandag (Donderdag 7 April) in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.

Die plaaslike plaaswag het gister ’n Whatsapp-boodskap gedeel waarin gesê is die rede waarom geen alarm gemaak is op die wag se sosialemediagroepe ná die aanval nie, is juis omdat die verdagte dadelik vasgetrek is en hulle “so min as moontlik mense op die toneel wou hê om die bewysstukke so goed as moontlik te bewaar”.

In dieselfde asem het die boodskap ook versoek dat die publiek die familie van die egpaar respekteer deur nie sosialemediaplasings oor die saak op hul groepe te deel nie.

Uys van der Westhuijzen, die voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee en wat self ook buite Malmesbury boer, het Dinsdag aan Weslander gesê sy hart gaan uit na die familie van die slagoffers.

“Dit was ’n sinnelose en barbaarse aanval wat helder oordag plaasgevind het. Ons is dankbaar die aanvaller is gevang. Mag hy die toepaslike straf kry wat hy verdien,” het Van der Westhuijzen gesê.

Volgens Van der Westhuijzen is veiligheidshekke en diefwering altyd die eerste linie van verdediging.

“Moenie enigiemand toegang tot jou perseel gee of in jou huis toelaat nie,” het hy gepleit.

Hy het ook gesê plattelanders moet besef veiligheid op plase en in landelike gebiede gaan toenemend ’n groter uitdaging word namate die bevolkingsgetalle in dorpe en die metro-gebiede styg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article