Die polisie het Woensdag, 12 Junie die voertuig waarin ’n 79-jarige vrou Maandag op die laagwaterbrug by die R362 by Lutzville meegesleur is, uit die water gehaal.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het bevestig polisieduikers het die voertuig ná ’n lang soektog gekry.
Die oorledene, Elizabeth Johanna Basson, was nog agter die stuur van die voertuig.
Basson het probeer om die laagwaterbrug in ’n dubbelkajuitbakkie oor te steek, maar die water het die voertuig meegesleur.
Die polisie het sedertdien onverpoosd na haar én die voertuig gesoek.





