Vroetelmoue help om hierdie pasiënte se rusteloosheid te tem en voorsien selfs ure se stimulasie en pret.Foto: Verskaf


Net soos ’n kind wat deur ’n kombers of speelding gesus word, só word ’n persoon wat met demensie of alzheimers leef deur ’n vroetelmou gesus.

Helpende Hand het weer vanjaar ’n Breinaald-projek van stapel gestuur waarin die gemeenskap vroetelmouebrei om pasiënte soos dié se gemoedere te streel.

“Die hele land se mense was gaande oor die projek en mense in werkskomplekse, skole en tehuise het saam gebrei,” sê Alisha de Lange, streekorganiseerder van die Wes-Kaap.

“Ons wil eintlik net alzheimer- en demensie-pasiënte se hande en verstand besig hou gedurende hierdie tyd.”

Mense wat met demensie of alzheimers leef, soek dikwels na iets om aan te peuter. Hulle trek of byt aan hul klere, bal hul vuiste saam, vryf hul vingers teen mekaar, of krap selfs hul arms stukkend. Hulle voel telkemale geïrriteerd of angstig as hulle nie uiting aan hul emosies kan gee nie. Dit is ook waarom dié mense soms gewelddadig raak.

Vroetelmoue help om hierdie pasiënte se rusteloosheid te tem en voorsien selfs ure se stimulasie en pret.

Vroetelmoue kan gebrei of gehekel word en op die mou word allerhande artikels vasgewerk waarmee pasiënte dan liefs kan peuter, soos gebreide wurms, krale, knopies, klokkies, lint, spons of selfs net stukkies wol.

Studies vanuit versorgingseenhede wys dat hierdie soort moue baie voordelig is vir die gemoedstoestand van demensie- en alzheimer-pasiënte.

“Baie van die vrywilligers het familie of vriende wat demensie of alzheimers het en hulle verstaan die frustrasie wat sulke mense beleef en wou graag verligting bring deur middel van ’n vroetelmou,” meen De Lange.

“Ons het ’n geskatte waarde van byna R20 000 se vroetelmoue ontvang wat meer as 446 moue is. Hierdie moue is by 15 tehuise in die streek afgelewer.”

Vroetelmoue is egter nie die enigste manier om hierdie pasiënte te sus nie.

“Saam met die vroetelmoue het ons ook heelwat vroetelkomberse ontvang wat baie populêr is onder die vrywilligers wat nie kan brei nie, maar steeds kreatief wil wees.

“Te danke aan die publiek se skenkings en die vrywilligers wat die nood raakgesien het, was en is hierdie projek steeds ’n reusesukses.”

As jy nie ’n brei-foendi is nie, maar steeds ’n bydrae wil maak, kan jy gerus wol by jou naaste Helpende Hand-tak aflaai, ’n vroetelkombers maak of ’n finansiële bydrae aan die projek maak.

Stuur e-pos na alisha@helpendehand.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article