Voorkoming en intervensie is een van die faktore waarop Badisa wil fokus.


Met voorkomingsprojekte en vroeë ingryping wanneer probleme in gesinne die kop begin uitsteek, kan kinderverwaarlosing en -mishande­ling asook die seksuele aanranding van kinders aan die Weskus verminder word.

Volgens die plaaslike barmhartigheidsorganisasie Badisa Weskus se nuutste jaarverslag, wat op Vrydag 8 September op sy jaarvergadering voorgelê is, moet voorkoming en vroeë intervensie groter aandag geniet, aangesien dit die behoefte aan statutêre dienste verlaag.

Badisa Weskus het ’n diensvlakooreenkoms met die departement van maatskaplike ontwikkeling, wat die dienste stipuleer wat deur sy program gelewer word. Die organisasie lewer dienste in Vredenburg, Velddrif, Saldanha, Langebaan, Green Village en omliggende plase in hierdie gebiede.

Verwydering van kind uit ouerhuis is laaste opsie

Die 2022-’23-jaarverslag werp lig op Badisa Weskus se statutêre dienste, wat die verwydering van kinders uit gevaarlike situasies insluit, asook die plasing van hierdie kinders in alternatiewe sorg.

Pleegouers en veiligheidsouers moet vir hierdie doel opgelei word en ’n pad moet saam met die biologiese ouers gestap word om hulle te help om hul situasie te verbeter.

Uiteindelik kan ’n kind weer by sy gesin geplaas word, mits omstandighede dit toelaat.

Elsabé Bester, die bestuurder van maatskaplike dienste by Badisa Weskus, het op die vergadering aan die gaste in die NG kerk Velddrif gesê dis altyd beter om ’n kind in sy gesin te hou, tensy dit nie anders kan nie.

Verwydering is die laaste opsie.

In die vorige boekjaar was Badisa Weskus se maatskaplike werkers genoodsaak om 26 kinders in alternatiewe sorg te plaas, terwyl 206 kinders aan wie die organisasie dienste lewer, steeds in pleegsorg is aangesien dit steeds nie in hierdie kinders se beste belang is om na hul ouerhuis terug te keer nie.

Altesaam 166 ondersoeke om te bepaal of kinders verwaarloos, seksueel aangerand of mishandel is, is in Badisa Weskus se vorige boekjaar voltooi en 92 gesinsherenigingsdienste is aan biologiese ouers en kinders gelewer. Terapeutiese dienste is aan 206 kinders en hul gesinne gelewer, ouerleiding is aan 108 ouers gegee en 32 pleegouerpare of veiligheidsouers het opleiding ontvang. Altesaam 1 308 kinders is in die 2022-’23-jaar bedien.

Breek die bose generasie-siklus

Volgens Heidi de Jager, maatskaplike werker by Badisa Weskus wat spesialiseer in vroeë ingrypingspro­gramme, is een van die grootste uitdagings trauma, armoede, dwelm- en alkoholmisbruik, asook gebrekkige ouerskap wat van geslag na geslag oorgedra word. Die siklus moet gebreek word deur kinders die toerusting en vaardighede te gee om beter lewensbesluite te maak.

Een van Badisa Weskus se lewensvaardigheidsprogramme, wat meetbare, positiewe resultate in kinders se gedrag, gesindheid en waardes meebring, is reeds besig om berge by Noordhoek Primêr in Velddrif te versit.

Hierdie gedragsmoeilike kinders toon verminderde negatiewe optrede, positiewe gedrag en groter empatie deur die aanwending van tegnieke soos kognitiewe gedragsterapie, desensitering, progressiewe spierontspanning en sosiale- vaardighede-opleiding.

Die skoolhoof, Merwyn Ruiter, sê dis vir hom ’n groot vreugde om te sien hoe hierdie kinders die vaardighede wat hulle geleer het, op die skoolterrein aanwend en hoe hulle in hul menswees begin groei.

Die vrug van vroeë ingryping

Die uitkringeffek van hierdie vroeë- intervensie-program word reeds ook waargeneem in die ouers wat hul gewoontes en gesindheid wil verander omdat hulle die positiewe resultate in hul kinders ervaar en ’n voorbeeld vir hulle wil word.

Badisa Weskus wil hierdie program na ander skole in sy bedieningsgebied uitbrei, maar het finansiering hiervoor nodig. Die staat se subsidie dek slegs 25 tot 30% van Badisa Weskus se algehele uitgawes.. Stuur gerus ’n e-posboodskap na admin@badisawk.org.za of skakel 022 713 1723 as jy belangstel om by Badisa Weskus se projekte betrokke te raak of om die projekte finansieel te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article