Om een van die finaliste vir die Mnr., Mej. en Mev. Doof Suid-Afrika 2025 te wees, is vir Hesmari Meyer (31) ‘n voorreg.
Dié inwoner van Vredenburg sê sy voel geëerd om so ver in die kompetisie te kon kom. Volgens Meyer het sy ingeskryf om ander gestremde mense te inspireer om nie teen hul gestremdheid vas te kyk nie, “maar om te weet as ‘n mens wil, kan jy enigiets bereik. Ons as gestremdes word baie gemarginaliseer, maar ek wil as inspirasie dien vir almal om vir hulself op te staan en te sê ‘ons kan, al is ons anders’.”
Meyer is met katarakte gebore en kon nie sien nie. Sy vertel ná vele operasies het haar sig verbeter, maar toe sy ses jaar oud was, is haar ma deur ‘n onderwyser aangeraai om haar gehoor te laat toets. “Hulle het progressiewe laefrekwensie-gehoorverlies by my
gediagnoseer. Ek het gehoortoerusting deur ‘n borg gekry. Ek het meestal lippe gelees, al het ek gehoortoerusting gedra, want ek kon later nie meer alles met die apparate hoor nie.
“Die kogleêre inplanting het my lewe verander, al is ek stokdoof wanneer ek dit afhaal. Dit het my meer selfvertroue gegee. Dis moeilik vir mense met gestremdhede om sosiaal aanvaar te word en om werk te kry. Ek is bevoorreg om by Woolworths te kan werk. Ek werk nou al agt jaar by Woolworths met ‘n rekord van 10 toekennings – onder andere as handelsmerk-ambassadeur. Ek het ook verlede jaar my anderhelfte gevind en is tans aan Pieter Gideon de Villiers verloof.”
Vir Meyer is dit belangrik vir Weskussers om meer oor doofheid te leer, maar ook gestremdheid in die algemeen. “Kennis is mag en as mense iets verstaan, skram hulle minder weg en word meer ondersteunend en geduldig.”
As Meyer die titel van Mej. Doof Suid-Afrika wen, wil sy ‘n ambassadeur vir gestremdes en gehoorgestremdes wees en bewusmaking op skoolvlak skep, om te verseker gehoorprobleme word vroeg reeds aangespreek sodat sodanige kinders ‘n regverdige kans in die lewe kan kry. Sy beoog om soveel as moontlik te doen en bedank die Weskus, haar familie, verloofde en skoonfamilie vir hul getroue ondersteuning en hulp.
Om vir Hesmari te stem, SMS MDS25 na 47439. Om meer van haar reis te weet, kontak haar op Whatsapp by 072 442 3037.





