Die Vredenburg/Saldanha-krieketklub het die feestyd se lekkernye afgeskud en sy seisoen hervat waar hy dit verlede jaar gelos het.
Die Krewe is steeds onoorwonne in Boland Krieket se Premier-liga nadat dié span sy eerste wedstryd Saterdag (13 Januarie) teen Wellington maklik met sewe paaltjies gewen het.
Die besoekers (Wellington), wat eerste gekolf het, het ’n skaflike teiken van 198 vir die tuisspan gelaat. Die Krewe het egter die teiken maklik met nog sewe paaltjies in die bank bereik.
Die span, wat die Wes-Kaap in Krieket SA se gemeenskapsbekerreeks verteenwoordig het, het die afgelope naweek gewys sy deelname was nie net geluk nie. Die Weskussers is tans stert in die lug ná hul vertonings die afgelope seisoen en het die naweek twee moeilike wedstryde op sy tuisveld gehad.
Saterdag (20 Januarie) het die Krewe Victorians van Worcester op Krewe-park in Vredenburg aangedurf. Met die eerste oorwinning van die nuwe jaar reeds verseker, het die tuisspan eerste gekolf en is uitgehaal vir 250 lopies met Imraan Manack (50) en Glenton Stuurman (37) wat hul kolwe die praatwerk laat doen het. Die tuisspan se boulers het daarna die besoekers se kolwers onder druk geplaas en Manack het weer sy veelsydigheid getoon toe hy 5/29 geneem het. Hy is goed bygestaan deur Devon Smith met 4/41 om ’n 111 lopie-oorwinning te verseker.
Paarl-Oos het Sondag hoopvol opgedaag om die Krewe se pote te breek en ook om die span sy eerste nederlaag toe te dien. Die tuisspan het weer eerste gekolf en het 248/9 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken. Die besoekers se kolwers kon egter nie die mas opkom teen die tuisspan se boulaanval nie en is almal terug na die kleedkamer vir ’n skamele 77 lopies, wat ’n oorwinning van 171 lopies vir die Krewe verseker het.
Devon Smith (3/17), Riaan Smit (2/7) en Thomas Kannemeyer (2/7) het uitgestaan met skitterende boulwerk.
Die span wat ná nege wedstryde steeds onoorwonne is, reis komende naweek na Stellenbosch waar hulle Van der Stel sal pak.





