Groot stilte heers oor die moord op ’n Vredenburgse man, die 44-jarige Elton Maneville, voorheen ’n aankoper by Lucky Star in St. Helenabaai.
Maneville se lewelose liggaam is op Sondag 3 September in ’n park in Den Haaglaan, Delft, gekry nadat sy familie hom dieselfde dag as vermis aangegee het.
Sers. Wesley Twigg, ’n Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat die Delft-polisie ’n moordsaak ondersoek. Mediese personeel het Maneville, wat sigbare kopbeserings gehad het, op die toneel dood verklaar.
Twigg het gesê verdagtes het van die toneel af gevlug en moet nog in hegtenis geneem word.
Maneville, wat in Vredenburg gebore en getoë is, het die afgelope jaar en ’n half by die visuitvoermaatskappy Echalar Fishing as groepverkrygingsbestuurder gewerk.
Volgens sy kollega Delano Thomas het Maneville in die week in Ruiterwacht, ’n noordelike voorstad van Kaapstad langs die Epping-nywerheidsgebied en Elsiesrivier, gebly en naweke gewoonlik tyd by sy gesin in Vredenburg deurgebring.
Volgens Thomas, die maatskappy se logistieke beampte, het hy en Maneville nog Saterdagaand gewerk. Maneville het hom by die bushalte afgelaai en is met die werksvoertuig, ’n Mitsubishi Outlander, daar weg na sy blyplek in Ruiterwacht.
Hy is hierna nie weer lewend gesien nie en die voertuig, waarmee hy vermoedelik iewers tussen Milnerton en Ruiterwacht gekaap is, word steeds vermis.
Sy familie het hom die volgende dag as vermis aangegee en plakkate op sosiale media versprei om hom te help opspoor. Daarin maak hulle melding dat hy die laaste keer in Milnerton gesien is.
Thomas sê hy sal Maneville onthou as iemand wat baie vir mense omgegee het, altyd besorgd was oor ander en uit sy pad sou gegaan het om iemand in nood te help.
Teen druktyd het sy familie, wat reeds sy liggaam in die Kaap gaan uitken het en deur ’n uiters moeilike tyd gaan, nog nie op Weslander se pogings om met hulle in verbinding te tree, gereageer nie.
’n Troosdiens word vanaand (Donderdag) om 19:00 by die AGS Louwville-gemeente gehou. Hy word Saterdag 16 September begrawe.




