Die alombekende Vredenburgse inwoner Aletta Bester het Dinsdag 10 Mei haar stryd teen kanker verloor.
Mesitoloma is in 2021 by Aletta gediagnoseer.
Aletta is op 3 Augustus 1942 in die Koegas-distrik in die Noord-Kaap gebore en het haar skoolopleiding aan die Hoërskool Prieska voltooi. Sy het haar onderwysdiploma in 1964 aan die Wellington-onderwyskollege voltooi.
Sy het in 1964 begin skoolhou as ’n huishoudkunde- en naaldwerk-onderwyseres by die gekombineerde laer- en hoërskool Vredenburg. Sy is aan die einde van 1967 uit die onderwys en het as haar man se administratiewe en bedryfsbestuurder by PH Bester Vervoer begin werk.
Haar dogter Martie Bester beskryf haar ma as ’n stil, nederige, hardwerkende, intelligente en talentvolle vrou.
“Sy het elke mens wat haar pad gekruis het altyd met die wêreld se respek hanteer. Sy het baie agter die skerms vir mense in nood gedoen. Baie mense beskou haar as hul raadgewer en mamma,” vertel Bester.
Aletta en haar man, Pieter Bester, was die afgelope 55 jaar die suksesvolle dryfveer agter PH Bester Vervoer. Hulle het byna 55 jaar in dieselfde huis in Vredenburg gewoon en sou op 23 Desember 55 jaar getroud gewees het.
Bester word oorleef deur haar geliefde man, Pieter, hul drie kinders – Martie en Herman Bester en Corrie le Roux – agt kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Die roudiens word Saterdag 21 Mei om 10:30 in die NG kerk Akkerdyk in Vredenburg gehou.





