Reagen Allen (vierde van regs), Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, by kapt. Jaco Kruger, skofbevelvoerder, en ander polisielede van die Vredenburg-polisiekantoor.Foto: SAPD


Vredenburg-polisiekantoor staan uit tussen polisiekantore in die Weskus nadat verskeie kantore verlede week verras is met ’n onverwagse besoek van die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid.

Volgens Marcellino Martin, woordvoerder vir minister Reagen Allen, is daar op Maandag 5 en Dinsdag 6 Junie onaangekondigde besoeke by verskeie polisiekantore, waaronder Vredenburg, afgelê.

Allen het na afloop van die besoek gesê hy was aangenaam verras toe hulle om 05:45 by die Vredenburg-polisiekantoor aankom en kapt. Jaco Kruger, skofbevelvoerder, saam met al sy operasionele beamptes kry, almal reeds vir diens aangemeld. Hul skof begin eers om 06:00.

Allen het gesê dat hy Kruger bedank het vir die professionele wyse waarop hy die parade gelei het. “Kruger verpersoonlik wat skofbevelvoerders tydens hierdie parades móét doen.”

Kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder by die Vredenburg-polisiekantoor, het gesê hulle streef daarna om dié kantoor meer professioneel te maak en aan te hou om dienslewering te verbeter. “Deur mense soos kaptein Kruger, word ons lede op hul tone gehou.”

Die onaangekondigde besoeke volg ná die onlangse aankondiging van misdaadstatistieke asook gerugte dat sekere polisiekantore in die Weskus nie hul oggend- en middagparades volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se standaard bedryfsprosedures (SOP) uitvoer nie.

Martin het verduidelik dat wanneer beamptes vir diens aanmeld, die skof­bevelvoerder ’n streng bedryfsprosedure moet volg, wat insluit die hou van ’n parade waar operasionele lede hul take ontvang en op hoogte van sake gebring moet word. Daar moet ook verseker word dat “beamptes nugter en netjies is”, hul polisie-uniforms aan het en oor die nodige en vereiste toerusting beskik. Die voorvalleboek moet nagegaan word en ’n inspeksie van vuurwapens moet gedoen word. Alle inligting wat die vorige skof verkry het, moet oorgedra word. Lede moet na afloop van die parade presies weet wat hul pligte en/of plasings is en wat van hulle verwag word. Spesifieke inligting oor patrolliegebiede moet oorgedra word en die aanhouding­selle moet geïnspekteer word.

Ongelukkig was van die skof­bevelvoerders by ander polisiekantore in die omgewing “nie so stiptelik nie en het al die polisiebeamptes nie vir diens aangemeld nie. Diegene wat wel vir diens aangemeld het, het dit gedoen nadat hul skof al moes begin het,” het Allen gesê.

Die hulpbrontekorte by die St. Helenabaai-polisiekantoor het Allen opgeval en hy het sy kommer uitgespreek oor die polisiebeampte-tot-bevolking-verhouding van dié kantoor wat op een beampte vir elke 498 inwoners neerkom.

“Dit is kommerwekkend, veral aangesien dit een van die kleiner dorpies langs die Weskus is,” het Allen gesê. Verder het hy genoem dat daar dringend gekyk moet word na kritieke instandhouding aan dele van die gebou.

Allen het onderneem om luit.-genl. Thembisile Patekile, provinsiale kommissaris, te betrek om die behoeftes van die St. Helenabaai-polisiekantoor aan te pak.

Hy het ook benadruk dat polisiekantore waar parades nie plaasgevind het nie en waar hy “ ’n lustelose houding” bespeur het, ook dringend aandag moet geniet.

“Alle stasiebevelvoerders moet daarop let dat ek op ’n lukrake basis hul parades gaan besoek, want dit gee die toon aan vir hoe beamptes tydens hul skofte optree,” het Allen gesê.

Hy het verder gesê dat ’n professionele polisiediens te alle tye gelewer moet word. Hy het verseker dat die Wes-Kaapse regering, “sodra die polisiediens na ’n bekwame provinsiale regering soos ons s’n afgewentel word”, sal verseker dat die standaarde wat Kruger en ander soos hy stel, “gehandhaaf sal word”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article