Kom speel weer gholf, asseblief!
Dít is die bestuurspan van die Vredenburg-gholfklub se beroep aan gholfspelers van die dorp.
Ná maande van harde werk en toewyding is die bane weer lowergroen, en waar ’n setperk nog nie heeltemal toegegroei is nie, is daar seepgladde tydelike setperke om te gebruik.
Weslander het op 15 Februarie vanjaar (“Vandale stroop gholfbaan: ‘Dis om van te huil,’ sê bestuur”) berig dat die klubbestuur ná jare van vandalisme en diefstal naby opgee was.
Die grootste skade was die duur pomp, pompstelsel en filters wat uit die pompkamer gesteel is en die baan sonder besproeiing gelaat het. Selfs die klep wat keer dat die rioolwater na die aangrensende rioolwerke terugspoel, is uitgebreek en weggedra.
Die gholfbaan word natgelei met gesuiwerde rioolwater van die rioolwerke af, en as die water nie na die gholfbaan gepomp word nie, sal die rioolplaas se suiweringsaanleg oorstroom.
Dalk onder top-tien
Sedertdien is daar behoorlik gewoeker met behulp van ekstra hulpbronne en mannekrag van die Saldanhabaai-munisipaliteit se kant af. “Sonder die munisipaliteit se hulp en bystand sou die baan nie so vinnig herstel het nie,” meen Alan Durant, klubkaptein, en Gert Engelbrecht, onderkaptein.
Nou kan selfs daarvan gedroom word om dalk weer eendag een van die toptien-gholfbane in die Wes-Kaap te wees.
LEES: Vandale stroop gholfbaan: ‘Dis om van te huil,’ sê bestuur
Kosie Roux, ’n ou bekende by die munisipaliteit se parke-en-tuine-afdeling, het die gholfbaan onder sy vlerk geneem en gehelp om die setperke te herbesaai en met gespesialiseerde toerusting soos ’n Scagg-snyer, borselsnyer en ’n onkruidvreter weer aan die groei te kry tot gladde, speelbare grasmatte. Hy het ook gereël vir ’n vierwielmotorfiets, ’n sleepwa en ’n voorlaaier-trekker om die werklas te verlig.
Die bowwe – die gebied rondom die skoonveld waar die gras hoër is – se bome en bosse is netjies gemaak en enige dooie takke wat houtstropers gelos het, is óf uit die oog geskuif óf met ’n bossiekapper uit die weg geruim. Die skoonveldsprinkelstelsel is opgeknap met plastiekbeskermingsbokse om skade aan die sprinkeltoebehore te voorkom, en die trekker is gebruik om al die gate en holtes op die skoonveld en T-bokse op te vul.
Dele wat weens die tekort aan water dood is, is herbesaai en dorings is verwyder.
Volgens Durant en Engelbrecht is die bedrag om die pomp te vervang en die gholfbaan te omhein reeds goedgekeur.
Totdat dit egter geïnstalleer kan word, maak hulle steeds gebruik van ’n mobiele pomp om die baan te besproei. Die munisipaliteit voorsien daagliks 50 liter diesel om die baan in werksure te besproei en koop boonop saad en kunsmis aan. Hulle betaal ook nou die personeel van vyf se salaris.
Beter sekuriteit
Dit alles is moontlik omdat die Vredenburg-gholfklub nou ook aan die munisipale sportliggaam behoort waarvan die krieket- en rugbyklub deel is. Die fynere details van dié ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die gholfbaan word nog uitgesorteer.
Danksy verhoogde veiligheidsmaatreëls en vier wagte wat snags oor die baan waak, was daar nog nie weer voorvalle van vandalisme nie. Die klubhuis en toiletgeriewe is ook weer herstel en mooigemaak.
Die Vredenburg-gholfklub bestaan sedert 1964 met gholfgeesdriftiges, vismaatskappye, die weermag en SAS Saldanha wat gehelp het om die baan te vestig.
In 1986 is die baan van die eerste perseel by die Militêre Akademie in Saldanha na die huidige perseel langs die munisipale rioolwerke en stortingsterrein by Vredenburg geskuif.
Saterdagmiddae ná spel word oudergewoonte ’n prysuitdeling gehou met die eerste prys gewoonlik ’n pak uitsoekvleis van Bekker-plaasprodukte. Woensdae speel die goue oues.
Die gholfklub wil graag weer groot toernooie soos die Weskus Ope-kampioenskap hou en nooi sakeondernemings, die Vredenburg-boerevereniging, die Tafelronde, skole en ander welsynorganisasies uit om weer hul geldinsamelingsprojekte hier te hou.
Die klub se ledetal het intussen met twintig gestyg. “Dit help nie die baan lyk mooi, maar ons het nie die mense wat kom speel nie,” het Durant gesê. “Kom speel weer gholf.”





