Die span van Vredenburg-Saldanha het Saterdag op Boland Park bewys hy is Boland se onbetwiste T20-kampioen, toe hy die Gemeenskapsbeker behou het wat hy verlede jaar met Worcester United moes deel.
Paarl (103/8) het eerste gaan kolf en Akeem Minnaar (33) moes walgooi ná 2 vinnige deurbrake deur die Krewe.
Slegs Darryl Hendricks (18) en Liam Muller (16) kon verder hond haaraf maak teen die akkurate boulwerk van Devon Smith (4-0-10-3), wat goeie bystand gekry het van Imran Manack en Avi Migijima.
Twee paaltjies deur die Paarlse kaptein, Adrian Du Toit, het die besoekers vroeg op die agterpoot geplaas, maar Quinton Kannemeyer (22), Neil Lochner (26) en Migijima (23) het die wa deur die drif getrek vir ’n welverdiende oorwinning met 3 paaltjies. Die Bolandse T20-Gemeenskapsbekerkampioen reis die naweek na Oudtshoorn waar hulle die SWD T20-kampioen, Pacaltsdorp United, sal pak op die Bridgton-sportgronde.
Die wenner van hierdie stryd sal dan die Wes-Kaap in die nasionale T20-klubkampioenskapsreeks in Desember verteenwoordig. Die nege provinsiale kampioene sal dan sake uitspook.
Paarl II het wel in die voorwedstryd die klub se eer met ’n oortuigende 9-paaltjie-oorwinning oor Vredenburg-Saldanha II gered. Die besoekers is in 16.2 boulbeurte uitgeboul vir slegs 75, danksy ’n briljante vertoning deur Alfredo Adams (4-0-10-5). Taigh Schoor (4-0-26-2), Herschelle Davids (4-0-18-2) en Cullen Heugh (3.2-0-18-1) het gesorg vir die res. Chris Jooste (15) het die beste met die kolf gevaar.
Jaywin Solomons (51 n.u.n. 7×4), linkshandige aanvangskolwer, het weer gewys waarom hy verlede jaar as die Paarl se belowendste jong speler aangewys is, met ’n foutlose vertoning wat die wind uit die Krewe se seile gehaal het. Sy eerste-paaltjie-vennootskap van 50 lopies met Leswin Titus (17) het die grondslag vir die sege gelê en is behaal in slegs 8.1 boulbeurte.





