Die nuus is uit!
Weslander kan bevestig dat die bouery langs Builders ’n winkelsentrum, ’n vulstasie en, ja, ’n SPAR en ’n TOPS uit die grond gaan laat verrys.
SPAR is die ankerhuurder van die beplande nuwe Stone Ridge-winkelsentrum in Saldanhaweg (die MR238 van Vredenburg na Saldanha) en langs dit gaan ’n Astron-vulstasie met ’n geriefswinkel gebou word.
Volgens Herman van As van die KRRC Trust, die ontwikkelaars van Stone Ridge Landgoed, behoort die vulstasie reeds vroeg in 2025 voltooi te wees, terwyl die winkelsentrum in Julie volgende jaar behoort te open.
Die winkelsentrum sal ook ander komplementerende winkels bevat. Huurkontrakte met dié onderskeie huurders word nog deurgehak.
Die totale grootte van die sentrum sal ná voltooiing sowat 3 800 m² bruto verhuurbare oppervlakte bied.
Van As beskou die Stone Ridge-winkelsentrum as komplementerend tot die Weskus Mall, wat in 2009 geopen is.
“Die Stone Ridge-sentrum gaan ’n geriefsentrum wees, terwyl Weskus Mall ’n bestemmingsentrum is. Die Stone Ridge-sentrum vorm ’n aaneenlopende aanbod vir die residensiële ontwikkeling, soos die woonontwikkelings om die Nautica- en die Laguna-winkelsentrums in Langebaan.”
Hy meen enige residensiële ontwikkeling moet deesdae ’n geriefsentrum hê om kopers en huurders te lok. “Die Stone Ridge-ontwikkeling gaan op die ou einde ’n sterk handelsnode van nasionale kleinhandelaars vir die streek word.”
’n Aansienlike bedrag word tans uitgegee op landskapsontwerp en naamborde vir Stone Ridge aan albei kante van Saldanhaweg. Die maatskappy wat dit hanteer, Planning Partners, het ook landskapsontwerp hanteer by onder meer die Victoria & Alfred-waterfrontontwikkeling en Century City in Kaapstad.
Die Stone Ridge Landgoed sluit ook die perseel in waarop Builders, Johnsson Workwear en Outdoor Warehouse gebou is. “Die feit dat ons nasionale huurders kon lok, kom vanweë die momentum wat ’n streekswinkelsentrum soos die Weskus Mall aan die aangrensende ontwikkelings bring.”
Van As beklemtoon dat hulle juis nie bestaande Weskus-kleinhandelhuurders na die ontwikkeling wou laat verhuis nie, maar eerder probeer het om nasionale huurders te lok wat nog nie in die Weskus gevestig is nie.
Die agentskap vir ’n bekende internasionale motorhandelaar, wat op hierdie tydstip nog nie sy naam bekend wil maak nie, is toegeken aan ’n ontwikkelaar wat reeds ’n deel van die stuk grond oorkant die pad van Builders gekoop het. Van As is opgewonde dat konstruksie vroeg in die nuwe jaar aan dié motorhandelaar se perseel sal begin. Nog twee ander motorhandelaars het ook reeds navraag gedoen oor plek in dié deel van die Stone Ridge-sakepark langs die Marais-nywerheidspark. Dié nywerheidspark wat ’n nuwe era vir nywerheidsgebiede in die Weskus ingelei het, is ook deur Van As en sy vennoot, Willie van Rensburg, ontwikkel.
“Verskeie persele is reeds in die sake- en ligtenywerheidsgedeelte van Stone Ridge verkoop en ’n hele aantal nuwe ondernemings behoort in die tweede helfte van 2025 daar gevestig te word.”
Bouplanne vir van die erwe wat reeds in dié deel verkoop is, is tans in die proses van goedkeuring by die munisipaliteit.
Die hele toekomstige ontwikkeling van die Stone Ridge-grond is duidelik in die Saldanhabaai-munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan uitgelê. Daarin is dit duidelik dat die Suidelike Deurweg op die ou einde by die nuwe pad sal aansluit, oor Saldanhaweg sal loop en by ’n sirkelroete na Paternoster aansluit.
Die eerste fase van die Stone Ridge-behuisingsontwikkeling wat woonstelle en vrystaande huise gaan bevat, sal volgens planne vroeg volgende jaar in die mark kom. Na verwagting sal verdere fases van behuisingsontwikkelings met gemengde sonerings volg.
Nog nuus is dat ’n Eagle Lighting-winkel vroeg in Desember op die Builders-perseel open.
Die Stone Ridge-ontwikkeling strek van die Weskus Mall tot by die Imoya-landgoed en hoër op tot by Strelitziastraat en beloop ongeveer 150 ha. Oorkant Saldanhaweg strek Stone Ridge tot teen LaFarge se grond.
verkeerslig-kwessie
Van As stel ook inwoners gerus dat ’n stel verkeersligte wel vir dié besige interseksie beplan word.
“Ons is verplig om dit op te rig en doen daarom gereeld verkeerstellings. Om verkeersligte op ’n provinsiale pad op te rig moet die verkeersdigtheid dit regverdig, want dit verminder die spoed en vloei op die pad.”
’n Verkeerslig-oorgang word eers ’n opsie wanneer die “dorpseffek” met gepaardgaande verkeersdigtheid groot genoeg raak.
“Ons is verplig om weer ’n amptelike verkeerstelling en verslag binne enkele maande ná die opening van die SPAR en die vulstasie te doen.”
Hy vertel dat dié verkeersligte al jare gelede ontwerp is en dat hulle net wag vir die betrokke provinsiale padowerheid se goedkeuring wanneer die verkeersdigtheid dit regverdig.
Die vreemde halfsirkelkronkel in die nuwe pad wat doodloop en waaruit motoriste regs in Vistaweg indraai, is waar ’n volgende verkeersirkel in die toekoms gebou gaan word.


