Lt.kol. Bertie MongFoto: Alida Buckle


Die kantoor van die speurhoof by die Vredenburg-polisiekantoor lyk nog dieselfde, maar het die afgelope maand ’n nuwe intrekker gekry – lt.kol. Bertie Mong (53).

Sy belangrikste doelwit is om die Vredenburg-speurtak met positiewe leierskap die beste in die Weskus-distrik te maak.

“Ek glo in leading by example en is nie bang om my eie hande vuil te maak nie. Saam gaan ons toesien dat mense positief oor die speurders van Vredenburg praat.”

Mong het langer as 33 jaar by die Kraaifontein-polisiekantoor gewerk. Om ná soveel jare skielik gewoond te raak aan ’n ander polisiekantoor se roetines en kultuur is ietwat van ’n uitdaging, maar hy glo “solank jy respek vir ander het en mense behandel soos jy self behandel wil word, kan jy enigiets bereik”.

Om al die polisielede by die Vredenburg-polisiekantoor behoorlik te leer ken, is een van sy doelwitte vir die eerste jaar. Hy wil die speurders die beste leiding gee wat hy kan sodat dié speurtak kan uitstyg.

Karaktereienskappe wat hy in kollegas waardeer, is respek, toewyding en gewilligheid. Sy sterkste punt is probleemoplossing en hy vind vreugde daarin om ander mense te help.

Wat hy van speurwerk terdeë geniet, is die feit dat elke dag ’n nuwe uitdaging bied. “Daar is nie ’n kans om verveeld te wees nie.”

Mong se aanstelling as luitenant-kolonel is ’n bevordering. Ná sy polisie-opleiding het hy eers in Elsiesrivier gewerk en sedert 1 April 1991 by die Kraaifontein-polisie, waar hy tot Desember verlede jaar ’n kaptein was.

As klein seuntjie het hy glo al vir sy ma gesê hy gaan ’n “posiesieman” word. Sy familie lag vandag steeds daaroor, want ná sy militêre opleiding het hy toe wel by die polisie aangesluit.

Die speurhoofpos bewaarheid ook ’n ander lewenslange droom van hom en sy vrou, Leonie – om hulle in die Weskus te vestig.

“Ek en my vrou is mense wat van die natuur hou en graag kampeer. Vir ons is daar geen beter plek om te wees as êrens langs die see in die Weskus met sy pragtige natuur en vriendelike mense nie. Die dag toe ek my vrou op Lambertsbaai se strand vra om te trou, het ons belowe ons sal alles doen om ons eendag in die Weskus te vestig.”

Mong se ouers het kort ná sy geboorte van Beaufort-Wes na Kraaifontein getrek, waar hy grootgeword het. Sy ouers het vertel dat sy geboorte in die Tygerberg-hospitaal die koerant gehaal het, omdat hy die eerste baba was wat in die hospitaal gedoop is.

Mong is ’n natuurliefhebber en hou daarvan om projekte self aan te pak. Nog stokperdjies is duik, visvang en houtwerk. Hy is ook baie lief vir tuinmaak.

Die Mongs is al amper 17 jaar getroud en het vier kinders, twee uit vorige huwelike.

Hul grootste uitdaging op dié tydstip is om alles gereël te kry sodat hulle hulle in Vredenburg kan vestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article