Die Wes-Kaapse minister van polisieoorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, en die Bergrivier-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Ray van Rooy, was saam met die nuwe vredesbeamptes in Piketberg.


Nuwe vredesbeamptes het onlangs hul opleiding voltooi en die Bergrivier is nou 17 beamptes ryker.

Altesaam 39 beamptes in die provinsie het vandeesmaand gegradueer en sal nou help om munisipaliteite te help om die veiligheid van inwoners te bewaar.

Reagen Allen, die LUR van polisieoorsig en gemeenskapsveiligheid, het Piketberg, Ceres en Stellenbosch tussen 20 en 24 Maart besoek.

Hierdie vredesbeampte-program is deel van die Wes-Kaap Veiligheidsplan (WKSP), wat die versterking van munisipale wetstoepassingskapasiteit reg oor die provinsie prioritiseer. Die idee is om veral stedelike en landelike veiligheid te verbeter en misdaad binne gemeenskappe te bekamp.

Die nuwe beamptes was deel van ’n 30-dae-program van sowat R2,5 miljoen, wat van 6 Februarie tot 17 Maart by die Porter Estate in Tokai aangebied is en waar individue die vermoë gebied is om die rol en werking van ’n vredesbeampte en verkeersbeampte te demonstreer en te verstaan.

Die deelnemers het onder meer die volgende tydens hul opleiding gedek:. Wetstoepassing en die Grondwet;. die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1995);. die beginsels van die strafreg en reëls van interpretasie van die wet;. ’n oorsig van die strafprosesreg;. wetgewing en die nasionale padverkeerswet met betrekking tot verkeersbewaarders;. bylae 1- en bylae 3-oortredings;. bewysreg en strafhowe;. praktiese opleiding oor artikel 56- en 341- administratiewe kennisgewings; en. die nakoming van professionele gedrag en organisatoriese etiek.

Gegradueerders het ingevolge die sertifikaat van die veiligheids- en sekuriteitsektor se onderwys- en opleidingsowerheid (Sasseta) ook ’n 12 maande-kontrak en internskap vir die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) by die onderskeie munisipaliteite ontvang.

Volgens Allen is veiliger gemeenskappe en opleiding vir werksgeleenthede moontlik as die rolspelers kan saamwerk om veiliger ruimtes te skep en misdaad te bekamp.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article