’n Kiosk wat uit ’n skeepsvraghouer in Vredenburg bedryf word, is Saterdag helderoordag deur ’n gewapende man beroof.
Die winkeltjie, wat in Uniestraat oorkant Steers geleë is, is veral gewild onder plaaslike leerders wat dit graag ondersteun omdat die kafee naby hul skole is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het ’n man die winkel Saterdag 18 Junie om 13:10 binnegaan en twee slagoffers gedreig.
Die verdagte het ’n sak op die toonbank neergesit en die man agter die toonbank beveel om die sak vol geld te maak. ’n Kringtelevisiekamera in die skeepshouer het die rooftog vasgevang.
Die verdagte het met R2 700 en ’n selfoon gevlug.
Enigeen met inligting wat die ondersoek kan bespoedig, word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte, sers. Ronaldo Joubert, by 022 703 6464 te skakel.





