Mense praat deesdae baie oor entrepreneurskap en hoe belangrik dit vir ons ekonomie is. Selfs skoolleerders, wat ek vir loopbaan- en vakkeuses toets, gee soms ’n aanduiding dat hulle graag entrepreneurs wil wees.
Maar is entrepreneurskap as sodanig ’n loopbaan?
Die woord “entrepreneur” kom van die Franse woord “entrepren(dre)” wat letterlik beteken “een wat (een of ander taak) onderneem”. Hoewel baie definisies vir entrepreneurskap die ronde doen, sal ek volstaan met “iemand wat inisiatief aan die dag lê en die een of ander sakeonderneming begin met wins as motief, maar wat ook bereid is om die meegaande risiko’s te aanvaar”.
Ek sal ook wil byvoeg dit is “iemand wat nie ’n werk wil hê nie, maar vir hom- of haarself werk skep”.
Maar hoe raak dit loopbaankeuses?
Eerstens moet ’n mens onthou dat entrepreneurskap in baie beroepsvelde voorkom. Die klem lê egter op werk vir jouself, hetsy jy ’n motorwerktuigkundige, tandarts, prokureur, sweiser, skoonheidsterapeut, IT-spesialis of wat ook al is.
Bogenoemde voorbeelde dui egter op ’n belangrike aspek van entrepreneurskap, naamlik dat dit op twee bene staan. Aan die een kant benodig jy spesialiskennis op die een of ander vakgebied en aan die ander kant goeie sakekennis.
Iemand wat ’n eie onderneming bedryf, het ’n ander ingesteldheid nodig as iemand wat vir ’n salaris werk. Een aspek daarvan is dat iemand wat ’n salaris ontvang, uitsien na die einde van die maand, terwyl die werkgewer, wat die salarisse moet betaal, vir seker nie na maandeindes uitsien nie.
Terug by jongelinge wat graag entrepreneurs wil wees – soos met enige ander beroep, is dit eerstens belangrik dat jy weet watter soort onderneming jy graag wil bedryf. Net soos jy ongelukkig kan wees in ’n werk wat nie pas by wie jy is nie, kan die verkeerde soort onderneming ook meebring dat jy onsuksesvol sal wees.
’n Boer het eenmaal aan my gesê ’n mens moenie met iets boer waarmee jy dink jy baie geld sal maak nie; boer eerder met iets waarvan jy hou, dan sal dit vir jou geld maak.
Dieselfde geld vir besigheid.
Kies jou loopbaan of studierigting volgens dit waarin jy talentvol is en waarvan jy hou. Daarna kan jy besluit of jy iewers wil gaan werk en of jy eerder vir jouself wil werk.
Ons leef in ’n wêreld waar kennis baie belangrik is, en hoewel ons bykans enigiets op Google kan naslaan, gaan ek gewis nie my motor vir herstelwerk neem na iemand wat op Google moet kyk wat hy moet doen nie. Dit kan ek self doen.
Toe ek ’n kind was, was my ouers se raad dat ek ná skool iets moet gaan studeer sodat ek ’n goeie werk kan kry.
Deesdae moedig ek jongmense aan om, indien moontlik, ná skool verder te studeer, maar om ook te besin oor hoe entrepreneursvriendelik jou verworwe kennis sal wees.
Dit is egter nie net skoolleerders wat loopbane of vakke moet kies wat vir raad by my aanklop nie. Dikwels is dit mense in hul middeljare wat nie gelukkig is in hul beroep nie.
Onlangs kry ek e-pos van ’n man wat ’n artikel van my gelees het. Hy skryf: “Ek wil graag jou [raad] inwin insake my loopbaan. Ek is mid-loopbaan en wil/moet kyk of ek op die regte pad is. Dit voel asof ek stagneer. Ek bemark myself sekerlik swak op LinkedIn en my CV is nie dinamies genoeg nie. Onlangse terugvoer was dat ek ‘interview unfit’ is. Ek verkoop myself swak.” (sic)
Baie mense in hul middeljare ervaar soortgelyke en ander loopbaanfrustrasies. Mense beweer die gemiddelde ouderdom waarop mense begin om ernstig oor hul loopbane te herbesin en miskien uit hul werk bedank en moontlik selfs ’n eie besigheid begin, is 43.
Ongelukkig het nie al hierdie verhale ’n gelukkige einde nie. As ’n mens nie weet watter slaggate om voor uit te kyk nie, raak jy baie maklik ’n slagoffer van jou eie onsekerheid of van uitbuiters wat jou en jou geld wil misbruik.
Kundige raad oor loopbane en/of entrepreneurskap kan jou baie trane en geld spaar. Spreuke 11:14 lui: “Sonder goeie leiding stort ’n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê.” (NLV). David Malherbe is ’n sake- en loopbaankonsultant van Langebaan. Kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com




