Die urban interface is ’n oorgangsone tussen natuurlike plantegroei en grond wat deur menslike aktiwiteit ontwikkel is.

Dit is die gebied waar ’n geboude omgewing grens teen die natuurlike omgewing wat dus blootgestel is aan ’n baie groter risiko van katastrofiese veldbrande.

Onlangse brande waar groot skade aan eiendomme, veral waar eiendomme naby aan natuurlike plantegroei voorgekom het, is vars in almal se geheue. Hier word daar weer na die Knysna-, Bettysbaai- en die Somerset-Wes-brande verwys waar baie huise heeltemal vernietig is. Die probleem en risiko word verder verhoog wanneer daar in die natuurlike gebiede ook uitheemse indringerplante voorkom. Dié plante vergroot die brandrisiko omrede dit die beskikbare brandbare materiaal aansienlik vermeerder, maar dit brand ook baie warmer en langer as ons inheemse plantegroei, wat brandbestrydingsoperasies verder bemoeilik.

Dit is dus kritiek dat ’n veiligheidsone geskep word tussen bewoonde gebiede en die natuurlike omgewing, ten einde grootskaalse verliese van sosiale en ekonomiese bates te voorkom. Die brandweer verwys dikwels na die uitdrukking defendable space – dit is basies die ruimte wat hulle nodig het om hul brandbestrydingsaksies suksesvol van stapel te kan stuur, ten einde te verhoed dat ’n huis of enige ander bate van jou afbrand.

Die vraag is hoe kan die probleem aangespreek word om almal te beveilig en om skade gedurende die komende brandseisoen te voorkom?

Lede van die Groter Cederberg-brandbeskermings­vereniging (GCBBV) word voortdurend voorsien van standaard riglyne en ander maklike implementeerbare opsies om hierdie veilige sones te skep.

Voorts is dit noodsaaklik dat munisipaliteite ook hul verantwoordelikheid besef ingevolge die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998), wat hulle verplig om brandstroke te maak op hul grense en om indringerplante in munisipale gebiede te verwyder.

Inwoners wat teenaan natuurlike gebiede bly, moet hul huise beveilig (sien illustrasie) deur die gebiede rondom hul huise skoon te maak, brand-ontwerpbeginsels vir jou tuin te begin implementeer en om brandbare materiaal wat in geute en ander plekke rondom huise versamel, te verwyder (www.cederbergpfpa.co.za).

• Kontak die GCBBV vir meer inligting en oor hoe hulle jou en jou dorp kan bystaan om katastrofiese vure te voorkom.

Skakel 022 931 2083 of e-pos admin@cederbergfpa.co.za en besoek hul webtuiste www.cederberfpa.co.za waar baie inligting beskikbaar is om jou eiendom wat grens teen natuurlike gebiede teen brande te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article