Kan iemand asseblief vir my sê waar hierdie euwel van “vonnisse wat samelopend uitgedien word” vandaan kom? Wat is die regverdiging daarvoor?
Wat is die sin dan daarin om iemand soveel jaar vir die eerste oortreding en soveel vir die tweede oortreding en soveel vir die derde oortreding te vonnis en dit dan samelopend te laat uitdien?
Dit is nou nie asof iemand op een oomblik al die oortredings gelyktydig gepleeg het en nou kan hy die vonnisse ook gelyktydig uitdien nie.
Neem die geval van Daniël Smit en Jerobejin van Wyk. Smit het eers vir Jerobejin en sy maatjie met sy bakkie gejaag en doelbewus probeer raakry. Hy het die maatjie misgery en is 15 jaar vir poging tot moord gevonnis. Daarna (nie terselfdertyd nie) het hy vir Jerobejin, wat hy raakgery het en wat beseer was, ontvoer en is 10 jaar daarvoor gevonnis. Daarna het hy vir Jerobejin vermoor, waarvoor hy lewenslank gevonnis is. Daarna het hy Jerobejin se liggaam opgekap, probeer verbrand en toe versteek, waarvoor hy vir vyf jaar gevonnis is. Daarna het hy die polisie vir dae lank belieg, waarvoor hy vir drie jaar vir regsverydeling gevonnis is.
Smit het nie al hierdie oortredings op een oomblik gepleeg nie, maar die een na die ander – party daarvan dae uitmekaar, waartydens hy tot besinning kon gekom en homself aan die polisie kon gaan oorgee het, maar hy het nie.
Inteendeel, hy het met elke nuwe oortreding die voriges probeer wegsteek.
Indien hy eers iemand probeer vermoor het en 15 jaar tronkstraf daarvoor uitgedien het en daarna iemand anders ontvoer het en 10 jaar daarvoor gevonnis word, sou hy tog sekerlik nie vrygelaat word omdat hy reeds 15 jaar vir poging tot moord uitgedien het nie. Hoe kan dit dan in hierdie geval gebeur?
Daar is, na my mening, in hierdie geval en in die meeste ander gevalle, geen regverdiging daarvoor dat vonnisse samelopend uitgedien word nie.
Kan iemand asseblief vir my verduidelik hoe dit gebeur het dat die samelopende uitdien van vonnisse geregverdig geraak het?




