David Rossouw
Die 2025-seisoen van die Grootuitdaagbekerreeks in die Weskusstreek is nou in die pylvak en die vonke het die naweek behoorlik gespat toe agt spanne mekaar in ronde vier gepak het. Rugbyondersteuners in die Weskus is met uitkloprugby vermaak.
Steenberg’s Cove, wat nou sy ritme gevind het, het die afgelope naweek teen die nuweling Goedverwacht op al sy silinders gevuur.
Albei spanne het met die bal gehardloop en die skare met skitterende rugby vermaak. Cove was net ‘n kortkoppie voor Goedverwacht, die wedstryd met 31-27 gewen en daarmee ander teenstaanders gewaarsku om kennis te neem.
Die span van die Baai reis eerskomende naweek na Piketberg waar hy teen nog ‘n
gedugte teenstander te staan kom en dit sal interessant wees om te sien hoe hy teen
Piketberg gaan vaar.
In Hopefield het die tuisspan met Paternoster slaags geraak, wat ‘n harde neutedop was om te kraak. Hoewel Hopefield ‘n bonuspunt verwerf het deur meer as vier drieë te druk, was Paternoster aan die einde net ‘n kort koppie voor en die
kragmeting met ses punte
gewen (eindtelling 45-39).
Die wedstryd van die naweek was gewis dié tussen Velddrif en Saldanha. Saldanha, wat ná drie wedstryde die voorloper op die puntelys was, het na
Velddrif gereis en die tuisspan in sy agterplaas aangedurf.
Dit was duidelik van die afskop dat Saldanha harde bene gaan kou toe Velddrif eerste bloed geruik het. Ná 25 minute was die tuisspan gerieflik 19-7 voor. ‘n Strafdoel en ‘n onverdoelde drie het die telling na
27-7 verander en dinge het nie vir Saldanha goed gelyk toe rustyd aangebreek het nie.
Saldanha het ná die omdraai- slag skielik sy ritme gevind en Velddrif se vernuf is op die proef gestel. In die tweede helfte was daar net een span – Saldanha het die tweede helfte heeltemal oorheers en 26 punte teenoor die 10 van Velddrif aangeteken. Dit was egter nie genoeg nie, want hy is deur ‘n beter span op die dag met 37-33 geklop.
Op die Grafkelder het
St. Helenabaai, wat die derde plek op die punteleer beklee, hom teen ‘n begeesterde Young Hearts vasgeloop toe hy met 43-35 geklop is. St.Helenabaai het met sy vier drieë ‘n bonuspunt verdien en sy derde plek behou.
Hearts en St.Helenabaai het die skare met uitstekende rugby vermaak en so ook sy eerste bonuspunt – vir vier of meer drieë gedruk – verdien. Fernando Daniels (hoofafrigter) kan tevrede voel met sy span se vertoning. Sy grootste toets is Saterdag teen Saldanha in die baai. Langebaan en Vredenburg se wedstryd is ongelukkig uitgestel. Wedstrydbepalings vir eerskomende naweek (5 April):
• Vredenburg t. Velddrif,
Saldanha t. Young Hearts, St. Helenabaai t. Hopefield, Piketberg t. Steenberg’s Cove en Goedverwacht t. Langebaan. Paternoster geniet ‘n loslootjie.





