In die jaarlikse All Cape-rolbal-toernooi het Langebaan Country Estate (LCE) se rolbalspan die unieke prestasie behaal om ’n voltal (8) in een van sy wedstryde in Kleinmond te behaal.
Die toernooi het van 12 tot 16 April plaasgevind.
Wat die plaaslike span se prestasie nog meer merkwaardig gemaak het, is die feit dat dié prestasie met perfekte trekskote bereik is en geen “geluk” betrokke was nie. Dit is ’n prestasie wat baie selde in rolbal op hierdie vlak behaal word en beteken al agt van ’n span se balle was in tel teenoor geen van die opponent nie.
Dit is so uniek dat ’n kenteken deur Rolbal SA uitgereik word.
LCE se span was tweede in sy afdeling en het daarmee vir die uitspele in Hermanus gekwalifiseer.
Dit verdien ook om genoem te word dat in rolbalterme Jaco Uys en Snakes Snyman nog as beginners geklassifiseer word.
Die jaarlikse All Cape-toernooi lok sterk spanne van reg oor die Wes-Kaap, Suid-Kaap, Oos-Kaap en selfs die Noord-Kaap, en hierdie jaar was geen uitsondering nie.
Spanne van so ver as Uitenhage het kom deelneem.
Altesaam 140 spanne het ingeskryf en die kompetisie is oor vyf dae in die Boland-distrik beslis. Die meeste van die verskillende distrikte se provinsiale spelers het deelgeneem.





